DBV se Linda het groot hart
2009-06-18
Lise Beyers
VIR sewentien jaar lank al probeer Linda Groenewald ’n beter lewe skep vir die stemlose wesens van die Paarl. Linda het heel toevallig by die Paarl DBV begin werk, maar het nog altyd ’n groot liefde vir diere gehad. Toe sy destyds in Bellville gewoon het, is rondloperdiere dikwels eers na haar gebring, voordat huise vir hulle gevind is. En al hoewel Linda van plan was om net tydelik by die DBV te bly, het sy baie vinnig besef dat dít haar roeping is. En hierdie werk is beslis ’n roeping. Dit verg lang ure, met min betaling, en dan ook die daaglikse hartseer van in aanraking kom met erg mishandelde diere. Asook die werklikheid van die treurige toestand van honderde troeteldiere in dié gebied. Die DBV is ’n nie-winsgewende organisasie en hul plig is om te sorg, en huise te vind, vir mishandelde en ongewenste diere. Elke DBV moet finansieel vir homself sorg, dus maak hulle staat op die publiek se ondersteuning met fondsinsamelings, asook donasies. Hulle het ook ’n kontrak met die Munisipaliteit om rondloperdiere op te tel en te skut, slegs wanneer die munisipale dierebeheer-beampte nie hierdie funksie kan nakom nie (byvoorbeeld as gevolg van ’n personeeltekort, onvoldoende toerusting, of na ure). Maar hierdie pligte mag die DBV wettiglik slegs uitvoer as hulle amptelik deur die munisipaliteit genader word. Die munisipaliteit betaal dan vir hierdie dienste - R10 per dag vir die skut van ’n dier, en R50 vir die genadedood. “Ja dit is baie moeilik. Jy wil alle diere help, maar dit is nie altyd moontlik nie,” vertel Linda. En haar werk is glad nie ’n maklike een nie. Dikwels is sy in die visier van mense wie se honde sy moet verwyder. Iemand het selfs al op haar geskiet. En dan natuurlik is sy al verskeie kere gebyt deur mishandelde honde wanneer sy hulle laai. “Die Drakenstein het ’n geweldige probleem met rondloperhonde weens ’n gebrek aan kundigheid om die diere te laat steriliseer. Die lisensiëring van troeteldiere word nie meer toegepas nie.” Dus besef Linda dat net opvoeding kan help met hierdie probleme. Sy spandeer baie tyd by skole om die jeug te probeer opvoed in die versorging van troeteldiere. Linda word ook dikwels gesien in arm gebiede van die vallei waar sy ’n gratis diens lewer om honde te ontwurm en te dip vir vlooie en bosluise. “Net omdat mense minder gegoed as ander is, beteken nie dat hulle nie troeteldiere mag hê nie. Hier is baie mense wat werklikwaar omgee vir hulle honde. “Maar nou met die ekonomiese toestand vind ons dat mense wat voorheen vir hulle diere goed gesorg het, dit eenvoudig nie meer kan bekostig nie. “Dus word die hond gevoer met kos wat nie voedsaam genoeg is vir hulle nie, en ons ontvang nou ook meer diere van mense wat nie meer vir hulle kan sorg nie.” Hierdie diere word dan deur die DBV versorg totdat ’n geskikte huis vir hulle gevind word. Maar hulle kan ook vir net so lank ’n dier skut as niemand dit wil hê nie. “Ons het nie ’n spesifieke tydperk wat ons hulle hou voordat die genadedood toegepas word nie. “Maar ek kan sien wanneer die dier genoeg gehad het van om in ’n hok te woon. Hulle praat met my, dan weet ek dat dit nou die tyd is. “En na al hierdie jare raak dit glad nie makliker vir my om ’n dier te laat uitsit nie. Elke keer is dit net so erg en ek stort steeds ’n traan vir die dier. “Maar die grootste plesier wat ek wel kry, is wanneer ek ’n gepaste tuiste vir ’n dier vind.” Die DBV verwelkom skenkings van blikkieskos, komberse, en enige ander ongewenste items. Hulle kan geskakel word by 021-863-2720, en vir noodgevalle, 082-510-6387.
More
News
|