DIE groeiende behoefte in die breë georganiseerde landbou aan effektiewe dienslewering in die Wes-Kaap en selfs in aangrensende provinsies, het die afgelope tyd druk op die Agri Mega Groep geplaas om sekere struktuuraanpassings te maak en om vir groei te posisioneer.
Die groep het so pas vir Jerome Topley aangestel as Hoofbestuurder, Kommunikasie en Ontwikkeling, in hul kantore te Hoofstraat 82 in die Paarl.
Topley, ’n bekende in radio- en televisiekringe en voormalige aanbieder van die “Praat Saam”-program op RSG, het onlangs uitgetree as direkteur in die kantoor van die Minister van Landbou in die Wes-Kaap.
Sy agtergrond as opvoedkundige en sy ondervinding in die wêreld van kommunikasie, asook sy hoëvlakse skakeling in regeringskringe, maak van Topley ’n ideale kandidaat vir hierdie nuwe posisie.
Agri Mega is bekend vir sy landboutentoonstellings op Bredasdorp en vanjaar ook in die Paarl by Boland Landbouskool.