Newtons toon verbetering
2009-06-18
NEWTONS se eerste rugbyspan het die tweede ronde van die liga goed afgeskop deur ’n oorwinning van 17-8 te behaal oor Good Hopes van Riebeek-Wes. Die algemene spel van die klub se voorspelers is veral ’n groot verbetering op verlede week se vertoning. Die voorspelers het in moeilike omstandighede gedomineer en het ver ente veld gewen met hul rolmaalbewegings. Newtons het vroeg reeds bloed geruik toe die haastige vleuel, Juwain Williams, ’n onverdoelde onderskep-drie gaan druk het. Die rustydtelling was 5-3. Ná rustyd het die agtal van Newtons aanhou domineer en is die kaptein, Johan Jansen (flank), in die hoekie oor vir ’n drie. Newtons het kort hierna egter, soos dikwels dié seisoen, fokus verloor en het die besoekers toegelaat om druk uit te oefen en punte aan te teken. Dit het die telling tot 10-8 laat krimp in die guns van Good Hopes. Harde woorde deur Newtons se kaptein het egter die gewenste uitwerking gehad, met die senter Luvellan Davids wat kon deurdraf na ’n goeie agterlyn-beweging. Riaan Crotz het dié drie verdoel. Die besoekers het daarna hard probeer om punte aan te teken, maar kon nie Newtons se rotsvaste verdediging klop nie. Newtons se uitblinkers was Roderick Loverlott (haker), Jacquin Ruthford (agtsteman), Johan Jansen en Etward Jansen (heelagter). Newtons speel Saterdag in sy derby-wedstryd teen Evergreens in die Paarl. * Newons se fondsinsamelingsprojek was volgens die klub ’n sukses. Die klub wil dus alle ondersteuners en borge bedank.
More
News
|