Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bestemming: Amerika!

Bestemming: Amerika!
 
2009-06-18

Jaco van Wyk

AMERIKA. Dit is die belowende Lowen Solomons se bestemming nadat hy onlangs ’n beurs aangebied is om sy sporttalente in basket- en bofbal te ontwikkel.

Dié lenige 16-jarige het teen dié tyd reeds sy bestemming bereik, aangesien sy vlug Dinsdag vertrek het na sy nuwe tuiste vir die volgende drie maande in die Amerikaanse staat van Michigan.

Alles het gebeur toe die twee hoogs-aangeskrewe basketbalskeidsregters in die VSA, Todd Meert en Ray Bomeli, verlede jaar vir Kyle Ray kom help het met afrigting en skeidsregter-opleiding in die Paarl.

Kyle, ’n Amerikaanse sendeling, het ’n paar jaar gelede besluit om basket- en bofbal in Suid-Afrika te bevorder - en dit was in dié tydperk, by die Paarl School Of Skills, waar Lowen se talente vir die eerste keer gewaar is.

Volgens Kyle het dié Amerikaanse bobaas-afrigters op vier geleenthede besluit om by Lowen se skool te kom afrig.

“Tydens dié oefensessies het Todd en Ray by Lowen begin aanklank vind as gevolg van sy uitstaande spel. Die feit dat sy Engels goed was, het ook baie gehelp.

“Terwyl ek in Februarie vanjaar terug in die VSA was, het Todd, wat ’n basketbal-afrigter is by ’n hoërskool in Michigan, my gevra of dit moontlik sal wees om vir Lowen oor te bring,” sê Kyle.

“Daar is ’n paar redes waarom hulle vir Lowen wou gehad het,” sê Kyle.

“Die eerste was sodat hy basketbaloefeninge en -kampe kan bywoon saam met Todd se hoërskoolspan, die tweede om vir Lowen te laat speel in ’n somerliga-­span en die derde om hom akademies te ontwikkel deur middel van private onderrig.”

Volgens Kyle sal Lowen ook geestelik ontwikkel gedurende dié drie maande wat hy by die afrigter se huis gaan woon, aangesien hy ook betrokke sal wees by verskeie jeugaktiwiteite wat deur die kerk aangebied word.

“Ek het aanvanklik nie veel belang gestel in basketbal nie en nie regtig saam geoefen nie,” sê Lowen, wat vanjaar, asook verlede jaar, Boland se o.18 krieketspan gehaal het.

“Kyle het my net eendag gevra om saam te kom oefen en toe byt die gogga.

“Kyle praat altyd van toewyding en harde oefening, dus is dit iets waarna ek streef - om net my beste te gee,” sê Lowen.

“Ek besef dat my uitnodiging na Amerika die geleentheid van ’n leeftyd is, so ek sal net my beste gee.”

“Lowen het die potensiaal om nog baie ver te kom,” sê Wayne de Wet, sportkoördineerder van Paarl School of Skills, “ek kon dit raaksien in sy krieket, en nou ook in basketbal.

“Die ding van Lowen is dat hy die regte houding het. Hy is altyd bereid om daardie ekstra bietjie in te sit.”




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za