Leerders bou self nuwe werkswinkel
2009-06-25
DIE Paarl Vaardigheidskool (Paarl School of Skills) op die R45 spog met ’n nuwe werkswinkel wat deur die leerders self gebou is. Leerders wat bouwerk en elektrisiteit as ’n vak het, het onder toesig van hul onderwyser hul stoorkamer omskep in ’n werkswinkel. Hulle is nog besig om die agterste gedeelte van die werkswinkel op te knap en om ’n deur in te sit. Elektrisiteitswese is ’n nuwe vak by die skool, waar die leerders die basiese vaardighede van die bedryf leer. Daar is vanjaar 276 leerders by die skool. Ouers wie se kinders wat dit moeilik vind om aan te pas by hoërskool en sukkel met die teoretiese sy van hul studies, kan by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aansoek doen om hulle kinders na die Vaardigheidskool oor te plaas. Die vakke wat by die skool aangebied word, is Engels, Afrikaans, Lewensoriëntering, Wiskunde, Ekonomiese Wetenskap en Ekonomiese Bestuurswetenskap (EMS). Leerders kan daarby enige twee van die praktiese vakke wat aangebied word, neem. Dit is Bouwerk, Loodgieterswerk, Huisbestuur/Spyseniering, Sweiswerk, Naaldwerk, Kunsvlyt, Elektrisiteitswese en Houtwerk. “Baie mense is onder die indruk dat die skool vir leerders is met dissiplineprobleme, dit is nie die geval nie. Die skool is vir kinders wat sukkel om te leer,” sê skoolhoof Sakhiwo Matiwane. Volgens Matiwane bied die skool leerders ’n tweede kans. Dit maak hulle werksgereed en gee hulle terselfdertyd meer selfvertroue. “Ons sou graag wou hê dat ons leerders, nadat hulle hul drie jaar hier voltooi het, na ’n kollege vir verdere opleiding kan gaan, maar die kolleges vereis baie teoretiese werk.” Die leerders spog nie net met hul handvaardighede nie, maar presteer ook goed op sportgebied. Die skool bied netbal, rugby, krieket, basketbal, landlope, atletiek, sokker en tennis aan. “Ons wil baie graag verder uitbrei met meganiese werkswinkels, motorwerktuigkunde, paneelklopwerk, spuitverf en dalk ’n haarsalon.” Aan die einde van elke jaar hou die skool hul ope-markdag wat as een van die skool se hoogtepunte van die jaar beskou word. Hier word die leerders se produkte wat hulle regdeur die jaar gemaak het, verkoop aan ouers en die publiek. Die skool doen ’n beroep op maatskappye en besigheidseienaars wat belang stel om leerders wat hul drie jaar voltooi het, ’n kans te gee om verdere ondervinding op te doen, om met die skool in verbinding te tree. Enigeen wat die skool wil help met sporttruie kan ook die skool kontak, by 021-863-2043.
More
News
|