VOORBEREIDINGS is volstoom aan die gang vir die vierde jaarlikse Cultivaria Kunstefees, wat weereens belowe om Paarl in die vermaaklikheidskern van die land te verander.
Honderde top Suid-Afrikaanse kunstenaars sal op die dorp toesak vanaf 23 tot 27 September. Vanjaar het die plaaslike wynprodusent Simonsvlei ook betrokke geraak as amptelike wynverskaffer vir die fees en hulle bekroonde wyne sal tydens eksklusiewe feesgeleenthede bedien word.
Die vier-dag kulturele extravaganza skop weereens af met die glansryke Bovril Black galadinee vir ’n duisend gaste in Paarl se Hoofstraat.
Organiseerders van die drie-gang maaltyd het ’n uitmuntende Simonsvlei wyn uit hulle Premier reeks as pasmaat vir elke gereg gekies vir ’n onvergeetlike kos- en wynkombinasie.
As amptelike verskaffer aan Cultivaria 2009 sal Simonsvlei wyne ook in die BBP lokaal by die Heinz Emporium bedien word en vir kos- en wyndemonstrasies in die Bokomo Kombuis gebruik word.
Simonsvlei sal ook een van die vyf top produsente wees wat hulle wyne te proe sal aanbied in die emporium by die Faurestraat-stadion.
Volgens Simonsvlei se bemarkingsbestuurder, Danie Terblanche bestaan daar ’n perfekte sinergie tussen die Cultivaria-fees en Simonsvlei wyne.
“Die fees skep die perfekte platform om ons wyne in die kollig te stel en ons is trots op ons betrokkenheid by so ’n suksesvolle geleentheid, wat jaarliks van krag tot krag gaan.
“Cultivaria het beslis gesorg dat Paarl meer prominent word as ’n bestemming en het sonder twyfel die belangrikste gebeurtenis op ons dorpskalender geword.
“Die fees teiken ’n unieke mark, wat baie oorstemming het met Simonsvlei verbruikers en dit was dus vir ons sinvol om ons betrokkenheid uit te brei en die fees deel van ons breër bemarkingstrategie te maak,” verduidelik Terblanche.
Simonsvlei se verbintenis met die fees is verder aangemoedig deur die feit dat Cultivaria ’n unieke, eg-Bolandse ondervinding aan besoekers bied met ’n kombinasie van wyn, kos en kultuur.
“Die fees het definitief bygedra tot die erkenning van Paarl se vermoë om geleenthede van hierdie soort aan te bied en dit is ’n gulde kans vir ons om Simonsvlei wyne in so ’n stylvolle omgewing bekend te stel,” het Terblanche gesê.
Simonsvlei se wynmakers sal weereens nou betrokke wees by die fees, aangesien Simonsvlei gereeld hulle wynmakers by bemarkingsaktiwiteite betrek ter erkenning van hulle harde werk.
Verlede jaar het wynmaker Helena Neethling deel uitgemaak van die inspirerende Vroue in Wyn-projek, waarmee meer as R50 000 ingesamel is vir die Cultivaria beursfonds.
Kaartjies is beskikbaar aanlyn by www.cultivaria.com. Slegs kredietkaartbetalings word aanvaar. Vir meer inligting, skakel 021-872-9754.