Weltevrede loop weer deur
2009-06-25
Lise Beyers
’n PLAASLIKE besigheid is Maandagmiddag van bykans R50 000 beroof. Vyf mans, almal gewapen met handwapens, het omstreeks 16:45 die Shoprite Usave binnegestap in die Weltevrede-winkelkompleks in Dr Abduraghmanstraat. Een van die rowers het direk gegaan na een van die sekuriteitswagte en hom deursoek, vermoedelik vir ’n vuurwapen. Die ander mans is na die kassiere toe en die kasregisters is leeggemaak. Hulle het ook daarop aangedring dat die kluis oopgesluit word, en al die geld hierin is verwyder. Net so rustig soos wat hulle die winkel binnegekom het, so ook het hulle die perseel verlaat en na ’n motor gestap wat oorkant die straat vir hulle gewag het. Volgens ooggetuies het hulle al vantevore hierdie swart VW Velocity Golf in die gebied gesien. Die motor het geen nommerplate gehad nie. Werknemers van Usave, en kliënte wat in die winkel was tydens die voorval, was erg geskok, maar niemand is beseer nie. Werknemers het ook gesê dat hulle die mans herken van ’n vorige rooftog. Die Weltevrede-winkelkompleks het al verskeie kere deurgeloop onder rowers. Hierdie is die tweede keer binne ses maande wat Usave beroof is. Toe hierdie winkel voorheen ’n Spar was, is daar talle kere hier ingebreek. Die kitsbank op die winkel se drumpel is ook al een keer oopgebreek en geroof. Van die kleiner winkels hiér loop ook gereeld deur onder middernagtelike strooptogte. En ten spyte van die sekuriteit wat deur die jare opgeknap is, slaag misdadigers steeds met hul misdrywe. Ten tyde van die nuutste voorval, was daar vier wagte teenwoordig binne die winkel. * Another armed robbery has taken place at a shopping complex in Weltevrede.
More
News
|