Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gemors

Gemors
 
2005-08-18

Susan Botha

DIE skote het verlede Donderdagoggend in die Paarlse middedorp geklap toe die polisie rubberkoeëls moes skiet om stakende munisipale werkers vas te vat.

Sowat 300 werkers, gewapen met kieries en pikstele, het met dreunsang Lady Greystraat en Bredastraat op horings geneem en al wat vullisdrom en blombak was, omgekeer, tydens 'n goedgekeurde optog.

Drie stakers is lig beseer toe die polisie se Area Misdaadbekampingseenheid Paarl rubberkoeëls gevuur het.

Die voorval het in Onder-Lady Greystraat gebeur, toe ontevrede munisipale werkers uit die optog gedans en vullisdromme en blombakke omgegooi het.

'n Groep stakers, met swaaiende knopkieries het die polisie verhoed om 'n arrestasie vir saakbesakdiging en openbare geweld te maak.
Polisiebeamptes wat in die chaos geglo het daar is lewensgevaar, het skote gevuur.

Sowat 200 plaaslike lede van die SA Munisipale Werkersunie (Samwu) het van 27 Julie af aan die nasionale staking deelgeneem.

Dit het gevolg nadat loononderhandelings tussen die vakbond en die SA Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) ’n dooiepunt bereik het.

Die eerste deel van die staking het heel gemoedelik verloop, met stakers wat voor die munisipale gebou in die Paarl gestaan het met plakkate.

Woensdag 10:00 het stakers die hekke voor die Paarlse burgersentrum gesluit met hul eie slotte.

Hulle het gedreig om die personeel wat wel werk, tot die aand tienuur daar te hou.

Die publiek is nie toegelaat om die gebou binne te gaan nie.
Later het die stakers wegbeweeg, nadat hulle al die balies met potplante voor die gebou gebreek het. Werknemers is opdrag gegee om so gou moontlik die gebou te ontruim vir hul eie veiligheid.

Laatmiddag was Paarliete geskok toe hulle die toestand van Distillerystraat sien waar die munisipale oorlaaistasie is.
“Wat ’n gemors!” beskryf een vrou die straat. “Dit was halwe paaltjies, boomstompe, sakke met vullis wat in die straat uitgegooi is.”

Donderdagoggend is benoud gewaarsku, “Gee pad, hier kom ’n massa mense aan.”

Teen 09:00 is personeel by alle munisipale kantore huis toe gestuur en die kantore gesluit.

Vrydag is dieselfde patroon gevolg.

By die Paarl elektrisiteitsafdeling het ’n groep stakers gewapen met
kieries en pikstele tot in die kantore gekom en personeel gedreig.

Geen ernstige skade is aangerig nie.

Intussen het die Munisipaliteit ’n buitemaatskappy gehuur om die vullis in die strate op te ruim. Die stakers het gou hiervan bewus geword en gewag tot die vragmotor voor die burgersentrum was.

Die stakers, wat weet hoe die vullisvragmotors se meganismes werk, het die bak se inhoud reg voor die gebou gestort. Hierna het die kontrakteur onttrek.

Werkers het Saterdagoggend vroeg die gemors voor die gebou skoongemaak en van Maandag af was die meeste stakers weer terug op hul poste.

Maar die res van Drakenstein is nie so tevrede met die staking en hoe dit hanteer is nie.

“Van Woensdag af kon ons niemand kry om ons te help nie,” het ’n ouer van die New Beginnings kleuterskool in Van der Lingenstraat gekla.

Hulle het toestemming gehad om ’n banier in Hoofstraat op te sit vir ’n pretdag hierdie komende Saterdag.

Ander inwoners was ook geskok toe hulle geskakel het oor hul vullisblikke wat oorloop.

Daar is na bewering aan hulle gesê om die vullis voor die hek van die oorlaaistasie in Distillerystraat te stort.

Intussen is die loongeskil nog nie afgehandel nie. Daar word op nasionale vlak gekyk na Salga se aanbod van 6% met ’n verdere 1,5% van 1 Februarie vir personeel wat minder as R57 000 per jaar verdien.

* Municipal workers demonstrating for higher wages, trashed the centre of Paarl during protests last week.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za