DIE laerskole betrokke by Interskole (Laerskool Gimnasium, Paarl Primêre Seunskool en HMS) het besluit om ons kinders se betrokkenheid af te skaal omdat te veel druk glo op die leerlinge geplaas word en te veel akademiese tyd verlore gaan.
Die program vir die rugby word nou oor twee dae verdeel. Die eerste dag is op die Maandag vir die o.7, o.8, o.9 (op die Cheve-velde) en dan die Donderdag vir die 0.10 tot o.13 spanne, met die hokkie Dinsdag en die netbal Woensdag.
Ek wonder wat hulle dink ’n pa wat ’n kind in elke ouderdomsgroep het, moet doen? Watter kind se wedstryd kyk hy en watter kind word teleurgestel omdat hy nie soveel tyd by sy werk kan afneem nie?
By die o.13 netbal- en hokkiewedstryde gaan daar nie meer seremonies wees nie - wat ’n teleurstelling.
Die feit dat die o.7-o.9 spanne op die Cheve-velde speel, met ouers langs die veld is ’n resep vir chaos.
By Faurestraat-stadion kry ’n mens die geleentheid om soveel meer wedstryde te sien en dit is vir ons kleinspan heerlik om op die veld te draf met ’n stadion vol mense wat vir jou kyk.
Daar sal natuurlik ook minder mense wees wat om 16:00 die hoofwedstryd sal kan kyk aangesien die meeste besighede eers 17:00 toemaak.
As daar gevoel was dat 19:00 te laat was, waarom nie die program met ’n uur vervroeg nie?
Ek dink dat die knellende ekonomiese tyd geen verskoning is om ’n tradisie te verander nie.
Ouer
Volgens ’n omsendbrief aan die ouers is na wye konsultasie besluit om die Interskole-program meer opvoedkundig gefundeerd te maak, met minder ontwrigting van die akademiese program.
Die skole wil probeer om ’n natuurlike situasie van sportdeelname te skep en die onnatuurlike druk te minimaliseer.
Daarom speel die kleintjies voortaan afsonderlik op die velde en tye wat hulle gewoonlik teen ander skole speel, met hul onderwysers as skeidsregters (buite-skeidsregters is voorheen gebruik) en hul ouers staan langs die veld.
Om die druk op die o.13 spelers te verlig, word ook met die formaliteite weggedoen by netbal en hokkie om dit in lyn te bring met die o.13 rugby waar daar nie formaliteite is nie. Repetisies vir dié formaliteite het voorheen heelwat tyd in beslag geneem.
Weens die speel van wedstryde in die aand moes in die verlede groot bedrae aan sekuriteit bestee word. Hierdie uitgawe kan nou bespaar word. - Red.