Sukkelpad in Bo-Dal
2009-07-02
Sieb Sieberhagen
DRIE jaar gelede sou die Bo Dal-pad in Dal Josafat al geteer gewees het, maar steeds sukkel die inwoners van die area daagliks tussen die slaggate deur. Skraapwerk aan die pad deur die Kaapse Wynlanddistriksraad rig nie veel uit nie, omdat die padoppervlak al diep weggeskraap is tot onder die vlak van die omringende veld. Skoolkinders van die Dal Josafat Laerskool loop op dae wanneer dit reën ook koes-koes skool toe, want voertuie wat die slaggate vol water tref veroorsaak ’n vlaag modderwater, met minder goeie nagevolge vir die skoolkinders. Nols en Christa van der Merwe van Helenasvlei, een van die plase in die omgewing, is al moedeloos oor die pad. “Volgens amptenare was daar R30 miljoen deur die provinsie begroot om die pad te teer. Nou is daar net R3 miljoen daarvan oor. Die geld is glo vir ander projekte gebruik. “Ons is regtig raadop. Die pad word deur baie mense gebruik. Hier is baie gastehuise, kleinhoewes en plase op die roete. “Soggens en in die middae word baie kinders by die skool af- en opgelaai, maar baie van die kinders stap ook skool toe. “En wanneer dit reën, is dit chaos. Die kinders kan nie anders as om in die pad te stap nie, want hier is geen sypaadjies nie. En hulle moet omtrent laat spaander om uit die modderwater se pad te bly,” vertel hulle. “Die onderhoud deur die Wynland Distriksmunisipaliteit laat veel te wense oor - daar word soms net so effens geskraap aan die pad, maar dis onvoldoende. “Ons verstaan nou dat die pad in 2011 geteer gaan word, maar van die belofte wat in 2006 deur die provinsiale owerhede gemaak is vir befondsing, het niks gekom nie,” sê hulle. Volgens dr Norman Kahlberg, distriksraadslid, het die pad dringend opgradering nodig, en doen hy sy bes om toe te sien dat dit sal gebeur. Fondse bly egter ’n groot probleem en moet verskaf word deur Provinsie. “Ons druk nou hard vir ’n oplossing. Dis ’n belangrike pad en beloftes moet nagekom word,” sê hy.
More
News
|