DIE rugbyspan van Newton, Villagers, het Saterdag vir Adelaars op hul eie tuisveld ’n 15-0 loesing toegedien.
Die wedstryd was ’n titaniese kragmeting, met Villagers wat vorendag gekom het met ’n paar reuse duikslae.
In die tweede helfte het die tuisspan verwoed aangeval, maar was elke keer voor die besoekers se doellyn gestuit.
Villagers se puntemakers was Vernon Juries (1 drie), Reggie Jantjies (1 drie) en Bjorn Hollenbach (1 doelskop en 1 strafdoel).
Uitblinkers vir Villagers was Pakkies Japhta, Reggie Jantjies en Beeza Arries.
Villagers se tweede span het 17-7 gewen.
Eerskomende Saterdag speel Villagers tuis teen United Stones, waarna daar braai-verkope gehou sal word.
* ALBIONS se eerste rugbyspan kon hul talle geleenthede nie in punte omskep nie, toe hulle Saterdag vasgeval het teen Franschhoek.
Die eindtelling van 21-12 lyk egter erger as wat dit is, aangesien die wedstryd kort voor die einde nog in die weegskaal was met die telling op 12-14 vir Franschhoek.
Kort voor die einde het Albions ’n blaps begaan as gevolg van ’n misverstand tussen die spelers, wat aan Franschhoek ’n verspot-maklike drie gegee het.
Albions het oor die algemeen goed vertoon in die skrums, maar in die lynstane was sake maar power vir die Paarliete.
Albions se speler van die wedstryd was Hendrick Kunené (agtsteman).
Vir Albions het Curtley Davids (heelagter, 3 strafdoele) behaal en die kaptein, Lincoln du Preez, het ’n skepdoel aangeteken.
Albions se tweede span het 8-25 verloor en die derde span het 24-13 gewen.
Eerskomende Saterdag speel Albions weg teen Northerns. Die bus vertrek om 11:00 vanaf Groenheuwel.