SOOS die Britse en Ierse Leeus se afrigter, Ian McGeechan, Saterdag gesê het na afloop van hul nederlaag teen die Bokke op Loftus Versveld, net so kan die Pniel-span sê dat hul nederlaag teen Hands & Heart te danke is aan “slegte geluk”.
Pniel Villagers het groot karakter getoon toe hulle met ’n kwartier se speeltyd oor ’n agterstand van 19-5 omskep het in ’n voorsprong van 22-19. In dié proses het hulle drie drieë gedruk waarvan een verdoel was.
As daar in ag geneem word dat die besoekers die laaste tien minute van die wedstryd met slegs dertien spelers moes klaarkom, nadat twee spelers onnodiglik gegeel is, dan spreek dit boekdele van die span se veggees en vasberadenheid.
Pniel is egter gekelder deur ’n skeidsregter wat byna vyf minute ekstra tyd laat speel het, waartydens die tuisspan die wendrie kon druk om met 24-22 te seëvier.
Puntemakers vir Pniel was Edwin Meyer (1 drie), Fernando Adams (1 drie), Clyde Rose (1 drie) en Patrick van Graan (1 drie). Wade Stubbs het met ’n doelskop geslaag.
* Saterdag se 33-11 oorwinning oor die Oostelike Provinsie, lyk die Boland Kavaliers slaggereed vir die afskop van vanjaar se Curriebeker rugbytoernooi.
In die eerste helfte van dié vriendskaplike kragmeting, was daar min te kies tussen die twee spanne, met die rustydtelling 12-11 in die Kavaliers se guns. In die tweede helfte het die Kavaliers egter al die praatwerk gedoen.
Die Kavaliers se driedrukkers was Mark Harris (2), Luvo Sogidashe, Elgar Watts en Grant le Roux. Harris het drie doelskoppe aangeteken.
Twee naweke gelede het die Kavaliers ook koning gekraai oor die SWD Arende.
Die Boland Kavaliers skop hul Curriebeker-veldtog af op 10 Julie, wanneer hulle die Luiperds in Wellington gaan pak.