Roses United storm voort
2009-07-02
ROSES UNITED het verlede week sy goeie vorm van die afgelope tyd voortgesit toe hy vir Ceres Rugbyklub met 24-22, op laasgenoemde se tuisveld, ore aangesit het. Die rustydtelling was 14-13 in die guns van Ceres. Die Rose het voorlangs goed hulle man gestaan teen die swaar pak van Ceres, met Goodman Moses wat goeie werk in die lynstane verrig het. Peoples se Franzil September was ook weereens ’n doring in die vlees van die tuisspan. September het by tye die Appelboere se verdediging heeltemal oorhoops gehad met sy kraglopies. Elrich Erasmus het ook weer sy beste vorm herwin en het veral op die dekverdediging uitgeblink. Oor die algemeen kan die Rose se hele pak voorspelers trots voel oor hul algemene spel. Agterlangs het Christopher ‘Manie’ Adams geskitter vir die Rose. Dit was veral sy teenaanvalle uit sy eie halfgebied wat die tuisspan se verdediging by tye oorhoops gehad het. Boonop was Adams se verdediging ook weer solied. Die Rose se Percival Williams het ook briljant vertoon op skrumskakel. Hy het sy spel slim afgewissel en vir Ceres gedurig op die agtervoet gehou met sy breekslae en taktiese skoppe. Williams se akkurate skopvoet is boonop goud werd vir die Rose. In die middelveld het Donovan Arendse ook gewys dat daar ’n blink toekoms vir hom voorlê as senter. Driedrukkers vir die Rose was Alvin Hugo (vleuel) en Justin Morgan (plaasvervanger-vleuel). Percival Williams was suksesvol met twee doelskoppe asook twee strafdoele, terwyl Stefanus Cedras (senter) in die kol was met een strafdoel. Die Rose pak eerskomende naweek die gedugte span van Rawsonville op laasgenoemde se tuisveld. Dié wedstryd beloof om kliphard te wees, aangesien beide spanne nog steeds in die wedloop om die Premierliga-kroon is. Die busse vertrek om 11:00 vanaf Klaasenstraat, Hillcrest.
More
News
|