Rotsvaste Tiere: Peoples vuur op alle silinders
2009-07-02
YOUNG PEOPLES het Saterdag op Faurestraat-stadion op alle silinders gevuur om die span van Primrose oortuigend met 39-17 te klop. Die terugkeer van Ben Martin op losskakel was die groot inspuiting in die Tiere se agterlyn. Dié rots van Peoples se agterlyn het goed verdedig en goeie momentum aan die res van die agterspelers gegee. Peoples het eerste punte aangeteken toe die heelagter Morné Williams met ’n strafdoel geslaag het. Ná ’n blaps in die Tiere se kwartgebied het Primrose hul eerste drie gedruk om 5-3 voor te loop. Goeie spel deur Peoples agterlangs, het die vleuel Luantion Abelse met pure spoed deur die verdediging van Primrose gebars om onder die pale te gaan druk. Dié drie het die telling op 10-5 te staan gebring. Na nog ’n blaps deur die Tiere, met Peoples se heelagter die skuldige party, is ’n strafdrie aan Primrose toegeken om die telling 10-12 te maak. Die stut Mafuta Malherbe, wat Saterdag ’n groot doring in die vlees van Primrose was met sy stormlopies en aggressiewe skrumwerk, het ná ’n lynstaan met spoed deurgebars om die Tiere se tweede drie te druk. Die Tiere se skrumskakel, Shawn Andrews, het kort voor rustyd die laaste sê gehad met ’n vyfpunter, om die rustydtelling 22-12 te maak in sy span se guns. Ná rustyd het die Tiere met tempo-rugby die swaar voorspelers van Primrose oor die veld gespeel en ná ’n blaps deur Primrose se heelagter, het Francois Julies die bal opgepik en vanaf die middellyn genael om onder die pale te gaan druk (telling 29-12). Primrose het net daarna die Tiere aan die slaap gevang en langs die pale gaan druk. Na volgehoue druk op Primrose se doellyn is die slot Charlyn Williams oor vir sy drie om die Tiere te laat voorloop met 36-17, waarna Morné Williams nog ’n strafdoel vir Peoples oorgeklits het om die Tiere 39-17 te laat seëvier. Die vaste vyf van die Tiere het hul man deeglik in die skrums en in die lynstane gestaan, met die jong slot Lester ‘Klappers’ Williams wat weereens ’n reuse-wedstryd gespeel het. Agterlangs het Peoples se senter, Sam Titus, die span van Primrose groot hoofbrekens besorg met sy vlymskerp breekslae. Peoples se tweedes het 24-5 gewen, die derdes het 3-5 verloor en die o.20’s het 0-14 verloor. Young Peoples speel Saterdag op Faurestraat-stadion teen Collegians. Die o.20’s speel op die Boy Louw-sportgronde.
More
News
|