Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


’n Nuwe era vir Klapmuts

’n Nuwe era vir Klapmuts
 
2009-07-02

Lise Beyers

’n NUWE era het vandeesweek in Klapmuts aangebreek met die afbreek van die stok-ou tydelike klaskamers wat reeds sedert 1976 leerders akkommodeer.

En in die plek hiervan sal ’n spog-leersentrum opgerig word wat die hele gemeenskap sal dien.

Fase 1 van die opgradering van Klapmuts Primêr sal beskik oor 28 nuwe klaskamers, asook ’n rekenaar- en mediasentrum, teen ’n koste van R30 miljoen.

“Ons is in die sewende hemel noudat die wiele begin rol het,” het die verheugde skoolhoof, Ronald Frans, gesê.

“Alhoewel vandag vir sommige leerkragte hoogs emosioneel was, met die afbreek van die geboue waarin hulle vir 32 jaar onderwys gegee het, is dit in die geheel ’n baie blye tyd met die bouwerk wat begin.

“Die tydelike klaskamers was al taamlik vervalle en geensins ’n gerieflike omgewing om kinders in op te voed nie.

“Ons nuwe skool gaan ’n pluimpie in die hoed wees vir die hele gemeenskap van Klapmuts, want die rekenaar- en mediasentrums sal na ure vir die publiek oopgestel word.”

Frans het bygevoeg dat dit sy droom is dat die hele gemeenskap hierdeur sal besef hoe belangrik ’n goeie opvoeding is.

Om die skool se verrigtinge so normaal as moontlik te laat verloop terwyl daar gebou word, is tydelike klaskamers aan die westekant van die skool opgerig.

Na beraming sal bouwerk ’n jaar duur.

Daar word beoog om in ’n latere stadium die gemeenskap nog nader by die skool te betrek, deur ’n jeugsentrum op te rig in ’n ou watertoring. Oortollige gronde sal ook aan die publiek oopgestel word om as gemeenskapstuine te bewerk.

Hierdie projek is moontlik gemaak deur die Onafhanklike Ontwikkelingstrust se skoleprojek. Die argitektuur is behartig deur Eugene da Silva Architects van die Paarl.

* Work has begun on the R30 million revamp of Klapmuts Primary School.




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za