Weltevrede dryf Bergrivier op
2005-08-18
GOEIE dryfwerk deur die eerste span van Weltevrede het Saterdag die woema verskaf vir hul 12-8 (5-3) sege oor Bergrivier.
Weltevrede het voorlangs die botoon gevoer, maar moes hul storie ken, as die Bergrivier-agterlyn die bal in die hande gekry het. Albei spanne het goed aangeval en die groot skare met mooi hardlooprugby vermaak.
Die verdediging aan beide kante was ook dodelik.
Weltevrede se twee drieë is deur Adrian Williams (haker) en Gilbert Absalom (stut) gedruk, met Christo Fransman (losskakel) wat een verdoel het.
Bergrivier se agsteman, Ryan Mouton, het 'n strafskop oorgesit, en Wayne Mitchell (vleuel) het 'n drie gedruk.
* Op Riversdal het die Hoër Landbouskool Boland se interskole-heerskappy van sewe jaar tot 'n einde gekom, toe Oakdale 8-6 gewen het.
Die span van Agter-Paarl se enigste punte was danksy die skopvoet van Stiaan van Zyl (losskakel) wat twee strafskoppe oorgeklits het. Stefan du Toit (vleuel) en Daniël Theron (senter) was Boland Landbou se uitblinkers.
More
News
|