Nóg ’n fabriek brand
2009-07-09
Lise Beyers
DONDERDAGAAND was die stilte van die nag in Daljosafat weereens verbreek deur sirenes, toe nog ’n fabriek aan die brand geslaan het. Die brand het omstreeks 22:00 by Mondi Versapak in Borssenburgstraat, ontstaan, toe ’n stoor vol hoogs vlambare plastiek-verpakkingsmateriaal aan die brand geslaan het en die vlamme vinnig versprei het na nog ’n stoor. Die brandalarm is dadelik geaktiveer en weens gereelde brand-oefeninge is al die personeel wat aan diens was binne enkele minute veilig vanaf die terrein ontruim. Niemand is beseer nie. Die Drakenstein Brandweer het Vrydag tot die vroeë oggendure die brand bestry, totdat die terrein veilig verklaar is. ’n Woordvoerder van Mondi het gesê dat die volle omvang van die brand nog nie bepaal is nie. “Van ’n onmiddellike besigheidsperspektief sal die brand nie ’n wesenlike impak op die maatskappy hê nie, en ’n gebeurlikheidsplan is in plek gesit om produksievereistes voort te sit.” Mondi is die derde fabriek wat in soveel maande deur ’n brand geruk is. Die ergste hiervan was die brand by Paarl Print op 17 April wat die lewens van 13 mense geëis het. Kort op sy hakke het ’n brand die groot Novo vrugteverpakkings aanleg van Colors Fruit, ook in Daljosafat, in puin gelê. Mondi Versapak is letterlik ’n klipgooi vanaf Paarl Print se perseel. Altesame 160 werknemers van Paarl Print het nou die trekpas gekry nadat aangekondig is dat die fabriek gaan hervestig word op die perseel van Paarl Web in Jan van Riebeeckweg. Paarl Web gaan na Kaapstad verhuis om te amalgameer met ’n susterfabriek in Montague Gardens. * Another Dal Josaphat factory has been severely damaged by a fire, this time Mondi Versapak.
More
News
|