Duisende rande perdegeld geroof
2009-07-09
Lise Beyers
DOBBELAARS het Saterdagmiddag te midde van die July perderesies-koors ’n noue ontkoming gehad, toe gewapende mans ’n perde-dobbelwinkel beroof het. Die voorval het ongeveer 17:20 plaasgevind, terwyl die Robin Hood Tote in New Rest propvol dobbelaars was kort ná die gewilde July-perderessies. Vier mans, almal gewapen met handwapens, het die besigheid binnegestorm en kliënte en personeel beveel om op die vloer te lê. Hierna het hulle na die kasregisters gegaan en al die geld hieruit verwyder. Een kassiere se selfoon is ook gesteel. Voordat hulle gevlug het, is een skoot afgeskiet, maar niemand is beseer nie. Die verdagtes het in ’n wit Toyota Cressida gevlug wat later verlate gevind is in Silvertown, Mbekweni. By verdere ondersoek het die polisie vasgestel dat die motor verlede week in Nyanga gesteel is. Byna R8000 is tydens die rooftog gesteel. Hierdie gewapende roof kom kort op die hakke van ’n soortgelyke roof twee weke gelede by ShopriteUsave by die Weltevrede-winkelkompleks. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting wat verband hou met hierdie voorvalle kan vir insp Biga Jones skakel by 021-864-9600. * A tote in Carterville was robbed of thousands of rands by armed men, shortly after the Durban July horse race on Saturday.
More
News
|