Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Hande in die hare

Hande in die hare
 
2009-07-09

Lise Beyers

DIE resessie slaan sy kloue in, en die toekoms van ’n groot plaaslike vervoermaatskappy, Slabbert Burger op Wellington, is duister.

Hul werkers sit met leë bankrekeninge nadat hulle nie hul salarisse einde Junie ontvang het nie. Talle werkers sit met hul hande in die hare omdat hulle nie hul rekeninge kan betaal of kos kan koop nie.

Die Paarl Post het reeds talle noodoproepe ontvang van Slabbert Burger werknemers wat nie weet waarheen om te draai nie.

“Ons het huur, elektrisiteit en skoolgeld wat betaal moet word, om nie te praat van daagliks kos op die tafel sit vir afhanklikes nie.”

Slabbert Burger se nood kom al ’n geruime tyd aan, met die petroleumreus Chevron, wat onlangs ’n likwidasie-aansoek teen hulle gebring het in die Kaapse Hooggeregshof. Volgens hofstukke skuld Slabbert Burger vir Chevron bykans R25 miljoen vir diesel.

Volgens ’n woordvoerder van Butler Blankenburg Prokureurs wat die saak namens Chevron behartig, is die twee maatskappye tans in onderhandelings oor ’n terugbetalingooreenkoms, en kan hulle die saak moontlik buite die hof skik.

Die onderneming is in 1957 in Wellington gestig deur Slabbert Burger.

Die besigheid het ’n nederige begin gehad, met Burger wat self vragmotor bestuur het en dienste gelewer het vir veral die landbousektor.

Onder sy leiding het hulle van krag tot krag gegaan met kantore wat later landwyd geopen is, en vandag word hul vragmotors oral op paaie in Suider-Afrika gesien.

Meer as 1300 mense is hier in diens, en die maatskappy het ’n vloot van 450 vragmotors.

Die onderneming het onder andere groot vervoerkontrakte met Saldanha Staal en Arcelor-Mittal.

Maar dit is duidelik dat Slabbert Burger ’n slagoffer is van die huidige ekonomiese resessie.

Nie net word die vervoermaatskappy se personeel nie betaal nie, maar volgens werknemers kan die maatskappy nie bekostig om nuwe onderdele of bande vir hul vragmotors aan te koop nie.

Senior bestuur en direksielede het in Desember glo laas salarisse ontvang, om salarisbetalings vir werkers moontlik te maak.

’n Woordvoerder van die maatskappy het gesê dat alhoewel hulle in die proses is om met Chevron te skik oor hul skuld, het ’n finansiële instelling reeds hul bankrekeninge gevries.

“Weens hierdie onnodige optrede, kan salarisse tans nie betaal word nie.

“Maar ons is hard aan die werk om hierdie probleme uit te stryk.

“Ons is in die proses om met ’n nasionale maatskappy te onderhandel om ’n belang in Slabbert Burger te bekom, wat herkapitalisasie vir die maatskappy beteken.

“Hierdie proses behoort teen die einde van volgende week gefinaliseer te wees.

“Ons eerste prioriteit is om alle salarisse te betaal.”


More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za