Passiespel terug op die planke
2009-07-09
DIE passiespel “Hy Leef!” word weer op 11 Julie by die AGS Kerk in Beukesstraat, Paarl-Oos, uitgevoer om 18:00. “Hierdie is ’n drama met ’n evangelieboodskap wat enige tyd van die jaar opgevoer kan word!” was die kommentaar van die eertydse adjunk-kommissaris van polisie, John Manuel, nadat hy op Paassondag na die passiespel gekyk het. Die verhoogstuk is geskryf deur die Paarlse skrywer, Petro Rhode, en word opgevoer deur die lede van die AGS kerk in Paarl-Oos. Tydens Paasfees vroeër hierdie jaar was die mense so in vervoering dat daar gevra was dat dit weer opgevoer moes word. Petro het al verskeie verhoogdramas geskryf en opgevoer, en is self ook ’n dramaturg. ’n Fooi van R15 gaan by die deur gevra word. Daar gaan ’n kort voorprogram in sang wees deur die gospelsanger van Belhar, Kevin Thysen en ’n mannekoor, 4 Vocals van Groot Drakenstein in Paarl. Vir kaartjies, kontak Petro Rhode by 021-862-9874 (na ure) of 076-304-9627. * Die Kairos Kultuurorganisasie wat verlede jaar deur haar, Lutfie Hendricks en Margareth Jacobs op die been gebring is, het ook besluit dis hoog tyd dat die veelbesproke gemeenskaps-teatergroep nou uiteindelik in die lewe geroep gaan word. Mense wat belang stel om lid te word van die dramagroep, kan gerus van hulle laat hoor.
More
News
|