Eric Nobbs in snaakse drama by Breytenbach
2009-07-09
OM sy eerste 30 jaar in die teater te vier, bied Eric Nobbs met trots weer sy skreeusnaakse vertolking van CJ Langenhoven se klassieke teks, Doppers en Filistyne, op 16 en 17 Julie om 20:00 aan by die Breytenbach-sentrum se Bôrdienghuis-teaterkafee op Wellington. Dié komedie handel onder andere ou Stoffel Gieljam (sagmoedige Neelsie se “neef”) wat sy rustige lewe op die plaas moet verruil vir die sonde en ergernis van ’n dorpslewe. Dit alles om sy vrou, Soetlief, wat agter die modes en die hoë lewe aan is, gelukkig te hou. Nobbs slaag uitstekend daarin om die lagspiere te prikkel in sy unieke voordrag van die tradisionele Afrikaanse humor en het al wyd lof ontvang vir sy vertolking. Doppers en Filistyne is baie na aan Nobbs se hart, aangesien dit sy heel eerste solovertoning is. Nobbs het onder meer landwyd bekend geword in PG du Plessis se TV-reeks Maplotters en was ook onlangs op die verhoog te sien in Du Plessis se klug, Sophia Mentz beredder haar boedel. Kaartjies is R70 by 072-115-2913 of 021-873-2786 of per e-pos by teater@breytenbachsentrum.co.za. Die volledige teaterprogram is op www.breytenbachsentrum.co.za te sien.
More
News
|