EK verwys na die hoofberig in die Paarl Post van 25 Junie, asook die brief met verwysing na buitensporige bykomstige bouaansoekheffings: Ek as afgetrede inwoner het vir my oudag ’n woning aangeskaf sodat ek hierdeur selfstandig kan wees.
Dit word gesê dat die regering van die dag wil hê dat persone minder afhanklik van die staat moet wees. Is die owerheid nie deur hierdie optrede besig om alle selfstandige inwoners uit hul wonings te dryf met hierdie buitensporige verhogings nie?
Die Raad verkondig dit wyd en syd dat eiendomsbelasting net 7,5% styg. Met my huidige nuwe waardasie styg my belasting egter met 19%. Waarheen nou?
Met die bykomstige heffing op bou-aansoeke is hulle boonop besig om oortreders van inwoners van die dorp te maak deur ongemagtigde bouwerke aan te moedig.
Die Raad is altyd ywerig om wonings te verskaf aan dié wat nie ’n woning besit nie. Ek sou graag wou weet hoeveel van hierdie wonings is belasbaar?
Word die ou deel van die dorp nie net weereens onder druk geplaas nie?