New Orleans neem oor
2005-08-18
IN ’n wedstryd wat maar min hoogtepunte opgelewer het, het New Orleans Saterdag vir Klein Nederburg in hul jaarlikse derby-kragmeting 12-3 geklop.
New Orleans kon egter as welverdiende oorwinnaars van die veld stap aangesien hulle die enigste drieë van die wedstryd gedruk het.
NO het met die sterker pak voorspelers op die veld gedraf en dit was gou duidelik dat dit voorlangs is waar hulle die KN-span wil aanvat.
’n Slim lynstaanbeweging binne KN se kwartgebied het die flank, Henrico Carolissen, geleentheid gegee om te druk.
Carolissen het voor die gevormde lynstaan verby gesny, die vlak ingooi van haker Adrian Willemse raakgevat en met ’n paar KN-verdedigers op sy rug die doellyn opgesoek.
Ashley Charles was suksesvol met die doelskop.
NO se agterlyn kon egter nooit aan die gang kom nie. ’n Aantal ingewikkelde skêr-bewegings het telkens skipbreuk gely en die bal het nooit by die vleuels uitgekom nie.
KN het dan ook reg in hul teenstanders se hand gespeel. Eerder om die bal wyd te speel, het hulle verkies om met die voorspelers en stormlopies om die skrum aan te val.
Die paar kere wat daar gepoog is om die balle by die punte uit te kry, het erge hanteringsfoute hul van besit beroof.
Gebrekkige hantering het beide spanne se spel deurgaans gekniehalter.
Daarby moes ’n oormaat strafskoppe deur skeidsregter, Jamiel Panday, uitgedeel word.
Goeie verdediging deur albei skole en die afdwing van druk, kan sekerlik hier die rede wees vir die talle flaters.
KN se agsteman, Rhowan Anderson, het vroeg in die eerste helfte sy span op die telbord gekry met ’n goeie strafskop vanaf die middellyn. Hy moes hierna seker ’n harde stamp of twee gekry het, want sy visier was vir die res van die wedstryd nooit weer dieselfde nie. Anderson het 'n verdere drie pogings na die pale verbrou, waarna die heelagter, Wade Engel, die skopwerk by hom oorgeneem het. Maar ook hy het gesukkel om die teiken te vind.
Rustyd was die telling slegs 7-3 en die wedstryd was nog ver van klaar.
In die tweede helfte is die spel ook heen en weer verplaas, met nie een span wat punte kon aanteken nie.
Doellose skoppe deur albei spanne het ook onnodig besit afgestaan en enige kontinuïteit verhoed.
Die laaste spyker in KN se doodskis was egter NO se tweede drie deur die vleuel, Glenton Cupido, in die linkerkantste hoek.
Hoewel KN verbete baklei het om die agterstand te probeer uitwis, het New Orleans geweier om bes te gee en kon hulle uithou tot die eindfluitjie geblaas het.
More
News
|