Skryf wyne in
2009-07-09
DIE Veritas Toekennings, Suid-Afrika se grootste onafhanklike en mees gesaghebbende kompetisie vir markklaar wyn, is om die draai. Wynmakers wat meen dat hulle ’n kans staan om tydens hierdie vooraanstaande jaarlikse wynstryd uit te blink, moet hul toppresteerders teen 12 Augustus inskryf. Laat inskrywings sal met spesiale vergunning en teen ’n addisionele koste nog tot 21 Augustus aanvaar word. Hierdie wyne word van 31 Augustus tot 4 September by die Nederburg Veilingkompleks deur spesialispanele takseer. Beoordeling geskied volgens streng internasionale riglyne. Vanjaar se wenwyne word op 10 Oktober by die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) tydens ’n glansdinee gekroon. Die Veritas Toekennings, nou in sy 19de jaar, word aangebied deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANW) ten einde die land se wynbedryf te bevorder en superieure kwaliteit en volgehoue uitnemendheid te vereer. Wyne ding mee om titels van dubbelgoud, goud, silwer en brons en die kompetisie raak jaarliks strawwer. Aangesien die Suid-Afrikaanse wynbedryf vanjaar sy 350ste bestaansjaar vier, is die mikpunt is om ten minste 350 deelnemers te hê wat 2 500 wyne vir hierdie kompetisie – SA se oudste en grootste – inskryf. R100 word terugbetaal aan elke inskrywing indien die mikpunt behaal word. Die 2009 Veritas inskrywingsvorm en -katalogus is aanlyn beskikbaar by www.veritas.co.za. Kontak Elsabé Ferreira vir verdere inligting by tel 021 807 3104, faks 021 863 2079 of e-pos patricia@veritas.co.za.
More
News
|