Jeug-patrollie vir Wellington-plase
2009-07-09
Lise Beyers
’n JEUG-PATROLLIE is onlangs op die been gebring om nog verder die landelike gebied van die Bovlei- en Groenberg-gebied van Wellington te beveilig. Hierdie projek, wat gelei word deur die polisie se plaaslike landelike sektorbestuurder, insp Pierre Hugo, en die voorsitter van die misdaadforum vir Wellington, Klaas Morkel, het onlangs die groen lig gekry van die Departement van Gemeenskapsveiligheid. Die departement het elf fietse geskenk, asook veiligheidshelms. om hierdie Jeug-Teen-Misdaad-projek van die grond te kry. Die idee van die jeug-patrollie is om jong mense se vertroue te wen en vir hulle bewus te maak van die stryd teen misdaad. Dus is seuns tussen die ouderdomme van 16 en 18 van verskeie plaasgemeenskappe in die gebied geïdentifiseer om by die patrollie aan te sluit. “Hierdie seuns was juis self by kattekwaad betrokke, en hulle is by die projek betrek om vir hulle ’n nuwe blik op die lewe te bied. “Reeds kan ons sien dat hulle trots is op hul nuwe pligte en selfs hul ouers het al vir ons laat weet dat ’n totale ommekeer plaasgevind het in hul lewens.” Die seuns se pligte is slegs om plaaspaaie te patrolleer en enige nuttige inligting oor ongerymdhede, of ongewenste karakters in die areas, aan die polisie te rapporteer. “Nooit sal die seuns in ’n situasie geplaas word waar hul lewens in gevaar gestel sal word nie. Hulle is slegs die oë en die ore van die polisie. “En reeds het hulle waardevolle inligting aan ons oorgedra en ons glo dat hulle ook vir ons van hulp sal wees op die skoolterrein.” Die jeug-patrollie sal slegs naweke en tydens skoolvakansies aan diens wees, en ook nooit ná donker nie. Binnekort sal die jong mans opgelei word in basiese selfverdediging en noodhulp. Die Wellington landelike gebied het die afgelope paar jaar ’n hoogs suksesvolle plaaswag, in samewerking met plaaslike boere. Landelike gebiede word dikwels geteister deur gesins- en drankverwante misdade. Daar word dus klem gelê op die bekamping van die verkoop van onwettige drank en dwelms hier. Sedert hul ontstaan in 2007, het die misdaad hier gedaal met 24%. Met die toevoeging van die jeug-patrollie, is die polisie vol vertroue dat landelike misdaad verder sal daal.
More
News
|