Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Rugby-uitslae

Rugby-uitslae
 
2009-07-09


* YOUNG STANDARDS het Saterdag ’n drieë-fees gevier toe al drie sy spanne maklike seges behaal het oor Pêrel United.

Tussen die eerste, tweede, en derde spanne het Standards gesorg vir altesaam 23 prag-drieë, wat dit vir hul toeskouers beslis die moeite werd gemaak het om dié wedstryde by te woon.

Standards se eerste span het 12 keer agter die doellyn gaan kuier vir ’n 77-0 oorwinning, terwyl die tweede span 6 drieë behaal het en die derdes 5 drieë.

Hoewel dit moeilik is om spelers uit te sonder in Standards I se weghol-oorwinning, verdien die nuwelinge in die span egter melding - hulle is definitief spelers vir die toekoms.

Onder die voorspelers het Clement van Zitters en Gershwin Hermanus hul hande opgesteek. Van Zitters het al sy balle, asook bykans 80% van sy opponente se balle, in die lynstane gesteel.

Agterlangs was Charl Hendricks en Elroy Arendse na ’n lang afwesigheid skerp op die aanval.

Standards se tweede span het 55-0 gewen en die derdes het 31-14 geseëvier.

Eerskomende Saterdag speel Standards teen Riverstones op die Daljosafat-stadion in ’n wedstryd wat die liga-voorlopers sal bepaal.

’n Funksie sal na afloop van die wedstryd plaasvind.

* RIVERSTONES het Saterdag 'n 13-10 oorwinning op die Daljosafat-stadion behaal oor Young Gardens.

Yulin Claasen en Marlin Zwaan het Riverstones se drieë gedruk en Wilton van Neel het ’n strafskop behaal.

Gardens II het 33-0 gewen terwyl Riverstones se derdes (22-14) en o.12’s (34-5) aan die wenkant was.

Riverstones speel Saterdag teen Young Standards op die Daljosafat-stadion, waar daar ook ’n funksie (braai-verkope) sal wees.

* VIOLETS se eerste rugbyspan het Saterdag vir Allandale met 16-3 getroef.

Ná talle probeerslae kon Ronwan Anderson Violets se rekening in die 30ste minuut open met ’n strafdoel.

Met Allandale wat meestal moes verdedig, kon Violets verder gewen het, mits hulle beter afgerond het. Die rustydtelling was 3-0 in Violets se guns.

Samonique Adonis het Violets se enigste drie gedruk, met William Hendricks wat gesorg het vir die doelskop. Tino Prins was in die kol met drie strafdoele.

Violets se tweede span het 62-0 gewen. Allandale se derde span het nie opgedaag vir hul wedstryd nie.

Violets speel eerskomende Saterdag teen Gardens op Gardens Park, Die wedstryde begin om 13:00.

* LAER PAARL het hulself Saterdag in die voet geskiet toe hulle met ’n strafskop in die doodsnikke 25-27 verloor het teen Windmeul United.

Die rustydtelling was 13-8 in die guns van Windmeul.

Blues was tot kort voor die einde gemaklik voor met 22-13, totdat Windmeul teruggeveg het met ’n drie en ’n doelskop in die doodsnikke van die wedstryd.

Blues se tweede span het 15-8 gewen en die derdes het 21-24 verloor.

Laer Paarl Blues speel Saterdag teen Vineyards op die Daljosafat-sportgronde.

* FALSTAN EVERGREENS moes Saterdag op Citrusdal diep delf om as oorwinnaars uit die stryd te tree teen die tuisspan, Young Standards, in ’n Boland President-liga kragmeting.

Die skeidsregter wat die wedstryd sou hanteer, het nie opgedaag nie, met die gevolg dat ’n skeidsregter van die tuisspan, wat die derdespan-wedstryd ook hanteer het, die fluitjieblaser was in die hoofwedstryd.

Dit was van die eerste minuut af duidelik dat die skeidsregter nie sou toelaat dat sy span dié wedstryd verloor nie.

Evergreens het gedurende die eerste helfte moedig probeer veg teen die beslissings van die skeidsregter en het wel ’n drie aangeteken deur die senter Brian Bester.

Eugene Andries (flank) het Bester se drie verdoel.

Ná ’n gevaarlike duikslag op een van Evergreens se spelers, het die skeidsregter ’n strafskop aan die besoekers toegeken. Andries se poging na die pale was in die kol en Evergreens kon gaan rus met ’n 10-0 voorsprong.

Gedurende die tweede helfte het die skeidsregter ongeveer twaalf strafskoppe, binne trefafstand, aan die tuisspan toegeken.

Eerlikheid het egter geseëvier en die tuisspan kon met geen van die strafskop-pogings slaag nie.

Gedurende die tweede helfte was Evergreens by ses geleenthede op pad na die doellyn vir wat wettige drieë sou wees.

Die skeidsregter het egter anders besluit en telkens die fluitjie geblaas vir vorentoe aangeë.

Om alles te vererger het die skeidsregter ’n drie aan die tuisspan toegeken wat duidelik nie ’n drie was nie. Die doelskop was egter ook mis en Evergreens kon koning kraai met 10-5.

Evergreens se tweede span het 5-24 verloor en die derdes het 5-10 verloor.

Evergreens speel eerskomende Saterdag op sy tuisveld (Falstan Evergreens Park) teen Good Hopes van Riebeek-Wes.

* SIMONDIUM se eerste rugbyspan het Saterdag weer daarin geslaag om ’n oorwinning op hul tuisveld te behaal.

Dié keer was dit Vineyards wat deurgeloop het, met Simondium wat ’n 19-18 oorwinning behaal het.

Die wedstryd was teen ’n vinnige tempo gespeel, met Vineyards wat vroeg reeds die voortou geneem het.

In die tweede helfte het Simondium die bal egter wyd versprei om altesaam drie keer agter die doellyn te kuier.

Trevor Darries, Brian Jacobs en C Joseph was Simondium se driedrukkers.

Simondium se tweedes het gelykop gespeel teen Vineyards II (7-7).

Simondium se derdes het 17-5 gewen teen Vineyards III.

Eerskomende Saterdag speel Simondium op hul tuisveld teen Windmeul.

* NEWTONS kon tot dusver die seisoen nog geen van sy wegwedstryde wen nie en Saterdag se wedstryd was geen uitsondering nie.

Die tuisspan, Young Hearts, het Newtons naelskraap met 23-20 geklop te Pella (Atlantis).

Swak besluitneming en swak dissipline (’n speler van Newtons was gestraf met ’n rooikaart ) het vir Newtons die wedstryd gekos teen een van die agterosse in die kompetisie.

Newtons se losskakel, Reginald le Fleur, het 15 punte met sy skopvoet behaal.

Die spoedvraat, Juwain Williams (1 drie), die flank Eslin Snyders en die senter Novellan Davids het ook goed gespeel.

Newtons Rugbyklub speel eerskomende Saterdag op sy tuisveld teen Samoa van Moorreesburg.


More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za