Roses gereed vir Villagers
2009-07-09
ROSES UNITED sal eerskomende Saterdag wil voortbou op die puik spel wat hulle die afgelope tyd opgedis het, wanneer hulle te staan kom teen Worcester Villagers op Pelikaanpark. Op papier is dié ’n wedstryd wat die Rose behoort te wen, maar die Wellingtonners durf nie hul teenstanders onderskat nie. Die Rose se voorspelers, onder leiding van Franzil September, het dié seisoen konstant goed vertoon. Die terugkeer van die stutte, Sandile Sijaji en Jacobus de Waal, gaan die Rose se afrigter, Abe Davids, lekker laat kopkrap, aangesien John Johnson en Harold Stewardt albei puik vertoon het in die wedstryde teen Ceres en Black Leaves. Shane Jacobs (slot) en Ignatius Korabie (agsteman) sal met hul kragspel ook weer respek afdwing by die besoekers. Agterlangs lyk die Rose ook gedug. Met die terugkeer van Jonathan Schalkwyk (senter) en Brendan April (vleuel) beskik die Rose oor meer slaankrag agterlangs. Dié twee spelers kan sorg vir hope vuurwerke Saterdag. Die afskop vir die hoofwedstryd is om 16:00. Die Rose nooi alle ondersteuners uit (op 31 Julie) vir ’n langarmdansparty in die Wellington Stadsaal. Musiek sal verskaf word deur Nerina Brass. Kontak vir Andy Heyns by 072-950-6556.
More
News
|