Paarl Rugbyklub wen oortuigend
2009-07-09
PAARL RUGBYKLUB se eerste span het Saterdag ’n oortuigende oorwinning van 38-24 oor Scottsdene in Kraaifontein behaal en in die proses vier baie mooi drieë gedruk. Paarl het vroeg in die wedstryd reeds die voortou geneem toe die sterk vleuel, Steve Nortier, ’n hele paar teenstanders platgehardloop het om agter die pale te gaan kuier. Kort daarna het die agsteman, Edwin Conradie, die bal agter die skrum opgetel en mooi om die skrum gebreek vir Paarl se tweede drie. Paarl se skrum was deurgaans dominerend en het die platform gelê vir verskillende aanvalsbewegings deur die agterlyn. In een van hierdie bewegings het senter, Eugene Kinghorn, skitterend vanuit sy eie halfgebied deurgesny. Hy het aansluiting gevind by Edwin Conradie wat van die teenstanders se kwartlyn af kon deurhardloop vir ’n skouspelagtige drie. Teen die einde van die wedstryd het Steve Nortier met nóg ’n goeie stormram-lopie vorendag gekom om sy tweede drie te gaan druk. Tussendeur het die losskakel, Jacques Hendricks, agtien punte bygedra deur goeie stelskopwerk. Jaco Stadler is as die speler van die wedstryd aangewys as gevolg van sy vernietigende skrumwerk op Paarl se vaskopkant. Paarl se tweede span het 12-0 gewen en die derde span het 31-0 gewen. Verskeie o.20-spelers het in die drie wedstryde gespeel, nadat hul wedstryd teen NNK weer uitgestel is. Paarl speel môre-aand vanaf 18:30 op Faurestraat-stadion teen Hamlets. Die o.20-span is veronderstel om Oranjezicht toe te reis vir hul wedstryd teen Tech-Tuine.
More
News
|