TOPFIKS, uitgerus en slaggereed!
Dit is van die vernaamste redes waarom die Boland Kavaliers, in die woorde van hul afrigter Deon Davids, vanjaar nie net in die Curriebeker gaan speel nie, maar eerder VIR die Curriebeker gaan speel.
Voeg hierby ’n paar ou staatmakers van die manne in swart, asook ’n paar nuwe gesigte wat beloof om ekstra slaankrag aan die Wynboere te gee, en ons praat van ’n span wat die geskiedkundige Curriebeker-rugbyreeks met selfvertroue kan aandurf.
Die Boland Kavaliers se Curriebeker-veldtog skop môre af wanneer hulle die Luiperds gaan aandurf op die Boland-rugbystadion in Wellington.
“Met verskeie top-spelers wat gerus het tydens die Vodacom-beker kompetisie, lyk die manne se kondisionering goed,” sê Davids.
“Die ouens is fiks en beserings is minimaal. Dit plaas ons in ’n goeie posisie vir dié kompetisie van 14 weke, waartydens dit noodsaaklik gaan wees om ons spelers reg te bestuur.”
Volgens Davids bestaan die span uit ’n goeie mengsel van jeug en ervaring. Buiten vir ’n handjievol nuwe gesigte, het ’n paar spelers ook hul hande opgesteek in die Vodacombeker-reeks.
Nuwe spelers wat gerus dopgehou kan word dié seisoen, is die veelsydige agterspeler Mark Harris, die slot Grant le Roux, die losvoorspeler Karel Hoffman en die stut Jané du Toit.
Jong manne wat dalk net die tonge mag laat uithang dié seisoen, is die buitesenter Cornal Hendricks, die flank Wendall Wehr en die agtsteman Alwyn Bester.
Voeg hierby gesoute spelers soos die kaptein, Conrad Burke, die ankermanne, Janro van Niekerk en Jacobie Adriaanse, en die opwindende losskakel, Elgar Watts, dan behoort die res van die praatwerk môre op Boland-stadion gedoen te word.
Die span van die Boland Kavaliers, wat môre om 15:30 teen die Luiperds gaan swaarde kruis op Boland-stadion, lyk so:
Justin Peach, Deon Scholtz, Cornal Hendricks, Dewey Swartbooi, Luvo Sogidashe, Elgar Watts, Marnus Hugo, Alwyn Bester, Wendall Wehr, Zolani Mofu, Rito Hlungwane, Frikkie Spies, Jacobie Adriaanse, Conrad Burke (k), Janro van Niekerk, (plaasvervangers) Clemen Lewis, Jané du Toit, Grant le Roux, Karel Hoffman, Angelo Brinkhuys, Mark Harris en Hein Myburgh.