Nuwe erwe beskikbaar op Wellington
2005-08-18
‘n NUWE woonbuurt met beheerde toegang is pas vir Wellington goedgekeur.
Die ontwikkeling waarvoor 66 erwe goedgekeur is, sal in fases ontwikkel word deur Leivoor Ontwikkelings (Edms) Bpk.
Die nuwe dorpshuiskompleks word in Kerkstraat aan die voet van Bainskloofpas begrens deur die beplande oostelike verbypad wat die dorp omkring en stedelike kruip in die rigting van Bainskloof beperk.
Hierdie unieke ligging met ‘n landelike atmosfeer en uitsigte bied ‘n besonderse uitdaging en verantwoordelikheid aan die argitekte om ‘n woonomgewing te skep wat beide die omgewing esteties komplimenteer en vir die inwoners ‘n ‘leefstyl vir ‘n leeftyd’ skep.
Die huise word as eietitel-eenhede op plot- en planbasis binne ‘n toegangsbeheerde kompleks verkoop. Daar is twee- en drieslaapkamerwonings volgens enkelvlak- of dupleksontwerpe. Die huisgroottes wissel van 110 vierkante meter tot 230 vierkante meter en die prys wissel van R850 000 tot R1,75 miljoen.
Binne-afwerking voorsien ruim ingeboude kaste, teëls in woonareas en volvloermatte in slaapkamers.
Die argitekte Smuts & de Kock sê die argitektuur van die kompleks is eenvoudig maar modern in ‘n Kaapse styl wat beloof om tydloos in die omgewing in te smelt.
Spesiale aandag is gegee aan binne/buite leefruimtes met inagneming van Wellington se klimaat.
‘n Huiseienaarsvereniging sal die gemeenskaplike private ruimte binne die omheinde kompleks bestuur. Daar word ook voorsien vir toegangsbeheer.
‘n Inheemse beplantingstema word deur die Landskapargitekte voorsien en ‘n omgewingbestuursplan sal ook voorsien en deur die eienaarsvereniging uitgevoer word veral langs die Leeurivier wat grens aan die ontwikkeling.
Die ontwikkelaars het sukses behaal met die benadering van inheemse plantegroei by die baie suksesvolle Simonsrust Behuising op Stellenbosch wat hulle einde verlede jaar voltooi het.
Die inheemse plantegroei vertoon mooi met ‘n verspreiding van plante wat deur die jaar blom en boonop minder water vereis.
Wellington ervaar groot uitbreiding en behoefte aan behuising vir studente, maar ook vir werkende mense.
Die feit dat Wellington slegs 45 minute van die lughawe en ‘n uur se ry van Kaapstad is, bied aan professionele persone ‘n alternatiewe keuse van huisvesting.
Bainsvallei beloof om in die behoefte van veral jong, professionele mense en ouer persone wat wil afskaal in die grootte van hul eiendom om ‘n makliker instandhoubare eiendom te bekom wat beter lewensgehalte bied, te voldoen. Met wat hier beplan word, sal hulle nie teleurgestel word nie.
Die bemarkingskoördineerder van die ontwikkelaar is Durare Propety Investments van die Paarl. Belangstellendes kan vir Lize by 082-378-1213 of Francois by 083-633-2550 skakel.
More
News
|