DIT is belaglik dat die Drakenstein Munisipaliteit oorweeg om nie die Paarl Post te ondersteun vir advertensies nie, dit ná die foto van Deetlefs du Toit met ’n geweer op die voorblad van die Paarl Post verskyn het.
Is dit dalk omdat die foto ’n ware metafoor van die belastingbetaler se frustrasie weergee deur ’n beeld, of dat die Munisipaliteit die aandag van swak diens en ongegronde belastingverhogings wil aflei?
As belastingbetalers is ons keelvol vir die Munisipaliteit se optredes en het dit tyd geword dat hulle hul sokkies optrek en besef as belastingbetalers is dit ons reg om vrae te begin vra oor hul administrasie.
As belastingbetalers is ons moeg vir die politiekery wat plaasvind in die Munisipaliteit. Ons soek diens en ons soek beter paaie, beter infrastruktuur en waarde vir ons swaarverdiende belastinggeld.
Sonder dit moet die Munisipaliteit besef ons gevoelens is dié van oorlog en woede – veel erger as wat die foto kan weergee!
Die stadsraad moet die boikotpraatjies wat ons vryheid van spraak probeer doodsmoor met dreigemente soos om die Paarl Post te boikot of die aangeleentheid na die parlement te verwys, los.
Dit is verkeerd om tyd by raadsvergaderings op sulke onbenullighede te mors - dien ons as gemeenskap en sorg dat die munisipale bestuurder sy “huis” in orde kry.
Onthou ons as belastingbetalers maak hul vergoeding moontlik! Anders sal ons as belastingbetalers jul tot verantwoording roep!