Violets blom op Gardens Park
2009-07-16
DIE eerste rugbyspan van Violets het Saterdag baie karakter getoon deur Young Gardens op Gardens Park met 17-15 te klop. Met die rustydtelling 7-15 in die tuisspan se guns, moes die manne in pers en wit diep delf om momentum te kry. Samonique Adonis het uithaler-spel gelewer deur die opponente se verdediging in die vyftiende minuut te breek, die bal vorentoe te skop en met ’n gunstige ‘bons van die bal’ besit te herwin om onder die pale te gaan druk. Hierna het swak balhantering egter vir Violets op die agtervoet geplaas. Ná ’n aanslaan deur Violets het Gardens se agtsteman vanaf ’n vinnige tweede fase bal dwarsdeur Violets se verdediging gehardloop om ’n pragdrie te druk. Nóg foute het egter ingesleep en nóg punte kon in die vorm van strafdoele teen Violets aangeteken word. In die tweede helfte het Violets se Anthony Kayster gaan druk ná goeie voorspeler-spel. Tino Prins het dié drie verdoel om die telling 14-15 in Gardens se guns te maak. Met aanhoudende druk het Prins weer ’n strafdoel behaal om aan sy span ’n oorwinning te verseker. Violets se tweede span het 13-9 verloor en die derde span het 17-5 vasgeval. Saterdag speel Violets teen Simondium op Daljosafat. Wedstryde begin om 13:00.
More
News
|