Boland bult spiere
2009-07-16
Jaco van Wyk
TOE die Boland Kavaliers kort voor rustyd die krane vlugtig oopgedraai het, was die storie fluit-fluit vir die besoekende Luiperds. Of só het die manne van Wellington duidelik Vrydagmiddag op Boland-stadion gedink, met ’n ‘gemaklike’ 23-8 voorsprong teen rustyd. Die skrif was egter nog lank nie aan die muur in dié Curriebeker-wedstryd nie en die Kavaliers, wat in die eerste helfte hul opponente voos gehardloop het, moes in die tweede helfte hul keer ken vir al wat hulle werd was. Die Kavaliers se 26-18 sege oor die manne van Noordwes was egter verdienstelik en baie welkom. Hopelik is dit ’n voorsmakie van wat dié seisoen te wagte kan wees, met bietjie roes wat sekerlik nog afgeskud moet word aangesien Boland se groot kanonne lanklaas in aksie was. Boland se voorste spelers het vroeër die seisoen ’n kondisioneringsprogram ondergaan ter voorbereiding vir die Curriebeker-kompetisie. Met die werkesel-flank, Zolani Mofu, wat oudergewoonte ’n handvol op die grond was vir die besoekers, kon die Kavaliers se vlymskerp angel in die losskakelposisie, Elgar Watts, die besoekers se verdediging deurgaans oopvlek. Dit is egter nou al vanselfsprekend dat, elke keer as Watts aan die bal vat, gebeur daar dinge. Dan was die tuisspan se skrumskakel, Marnus Hugo, ook weer op sy stukke. Boland se drieë is gedruk deur Deon Scholtz en Hugo. Die heelagter Justin Peach, wat niks wil weet van skeefkorrel nie, het twee doelskoppe en vier strafdoele bygevoeg. Die Kavaliers se volgende teenstanders, die Haaie, se tande is egter veel skerper as die Luiperds s’n geslyp. Boonop word dié wedstryd in Durban beslis - ’n gebied waar die huidige Curriebeker-kampioene nie maklik hul gelyke het nie. Dié wedstryd skop môre om 19:10 af.
More
News
|