DIE Breytenbach-sentrum op Wellington se teaterkafee, Die Bôrdienghuis, ondersteun plaaslike kunstenaars en bied ’n verhoog vir talentvolle musikante.
Op Maandag 20 Julie (20:00) word die tweede Open Mike-sessie aangebied.
Na die eerste suksesvolle aand wat die teater op die vooraand van Jeugdag aangebied het, was die omvang van die talent en die belangstelling so verbasend dat die Open Mike ’n maandelikse instelling sal word wat elke keer op ’n Maandagaand aangebied sal word. Alle klanktoerusting, asook die tromstel, word deur die Bôrdienghuis-teater voorsien en kunstenaars kan net hulle musiek en kitare bring.
Belangstellende musikante kan Morné Meyer by 072-229-7423 kontak. Dié aand word gratis aangebied en ’n kontantkroeg is beskikbaar.
* Op Vrydag 24 Julie om 20:00 maak die Wellingtonse groepe, AmaBhulu, en die Jeremiah Brimstone Band, hulle buiging op die teater se verhoog.
Die gehoor kan ’n allegaartjie verwag van folk-musiek, kwela, reggae, country, gypsy en melankoliese klanke – natuurlik met so ’n geur van boeremusiek.
Heine du Toit, Elmi Badenhorst, Dawid de Villiers, Hendre Retief en Natalie Mason sal dié aand hier te sien wees. Kaartjies is R50. Bespreek by 021-873-2786 of 072-115-2913.