Kuns maak harte heel
2009-07-16
’n AAND van musiek en kuns word op 1 Augustus by die Mountain Shadows gastehuis in Klein Drakenstein aangebied. ’n Vooruitskouing van unieke werke deur tien ontluikende plaaslike kunstenaars, kan vanaf 28 Julie besigtig word. Die uitstalling duur tot 2 Augustus. Die bekende Afrikaanse sangeres Petronel Baard, sal die aand gaste met haar musiek vermaak voordat ’n ligte aandete aangebied word. Die dryfveer agter die baie spesiale geleentheid, wat sy die “Viering van die Lewe” noem, is Paarliet Janet Malherbe. Janet is op 28 Julie 2000 diep getref toe haar tienerdogter, Andrea, aan meningitis gesterf het. Sy het twee jaar gelede begin skilder en gevind dat die terapie van kuns haar help om die seer te verwerk. Baie van die kunstenaars wat saam met Janet aan die uitstalling deelneem, het geliefdes aan die dood afgestaan of moes ’n traumatiese ervaring oorkom. Ook hulle word heel deur uiting aan hul gevoelens te kan gee in hul skilderye. ’n Skildery van Janet se dogter sal ook uitgestal word. Die emosievolle portret, ’n olieverfskildery getiteld “Keep your eyes on the Light”, is nie te koop nie. Kunswerke is deur Corlia Basson, M’Lani Basson, Dalene Buckle, Trevor Cleevely, Elsabé de Villiers, Yogi Frater, Ingo Lützeler, Janet Malherbe, Linda Reid en Cecile Rossouw. Kaartjies teen R100, wat aandete insluit, is beskikbaar by Le Clerq’s kunswinkel in die Dwars-in-die-Weg-sentrum te Hoofstraat 285, Paarl te koop (Sureta 021-872-1049). Daar sal die aand ’n kontantkroeg wees. Afrikaanse jazz sangeres Petronel Baard, belowe om by die openingsaand haar mooiste liedere te sing en haar nuwe CD, Weergaloos, saam te bring. Sy skryf en komponeer en begelei haarself op klavier of kitaar en ontvang wyd erkenning vir haar optredes. Benewens haar oorspronklike werke, sing sy ook ou klassieke liedjies wat gehore wegvoer. Inkomste uit kaartjieverkope, sowel as donasies, gaan ten bate van Amado, ’n plaaslike nie-winsgewende perde-sentrum waar behoeftige kinders uit die gemeenskap gehelp word om fisiese en geestelike gestremdhede te bowe te kom deur die terapie van perdry. Belangstellendes is welkom om vanaf 28 Julie reeds na die werke op uitstalling te gaan kyk. Kredietfasiliteite is by die gastehuis beskikbaar (021-862-3192). Skakel Janet by 082-553-8928 vir navrae.
More
News
|