Teleurgesteld met klub se spogdinee
2005-08-18
EK en my man het Young Peoples se spoggeleentheid bygewoon op Maandag 8 Augustus in die Paarlse stadsaal. Weereens baie geluk aan die klub vir hulle 110de bestaansjaar!
Die superrugby-span het gesorg vir ‘n baie interessante program en die aand baie besonders gemaak. Die toesprake deur al die sprekers was baie goed georganiseerd en voorbereid!
Net jammer oor die volgende dinge:
* Die meeste gaste het behoorlik uitgehang en baie moeite gedoen vir die aand. Daar was egter van die enkele gevalle waar mense met jeans sonder dasse by die funksie opgedaag het.
Dan wonder ‘n mens net as ‘n mens ‘n kaartjie koop vir ‘n sosiale geleentheid en op die kaartjie word aangedui dat die drag formeel is - hoe kan jeans sonder das aanvaarbaar wees?
* Daar is werklik baie moeite gedoen met die saal, net jammer oor die spyseniering. Behalwe vir die feit dat daar “'n fout” was met die voorgereg en dat dit toe nooit bedien was nie, was die hoofgereg regtig teleurstellend.
Vir R150 per persoon verwag mens darem ‘n beter spyskaart. Ek sal definitief nie van dié spyseniers gebruik maak nie!
* Ten laaste kan ek nie glo dat daar mense was wat by die funksie so min respek het vir ander nie. Mnr Brian van Rooyen wat ‘n bekende persoon is, en wat moeite gedoen het om die funksie by te woon, het ‘n toespraak redelik aan die einde van die aand gemaak.
Die ongemanierdheid van sommige gaste! Hulle het so hard gepraat dat ons skaars sy toespraak kon hoor! Wys jou net, geld kan nie klas koop nie!
Wou maar net sê
Die media-beampte van Young Peoples, Trevor Davy, reageer: Mense moet besef dat die klub op vreemde terrein beweeg het toe daar besluit is om ‘n funksie van dié omvang aan te bied.
Daar is baie lesse geleer daaruit en sal beslis in die toekoms daarop verbeter.
Ons was braaf genoeg om regstreeks op televisie te wys waarvan ons gemaak is, en ongelukkig het sekere dinge nie altyd na wense verloop nie.
Nogtans was dit ‘n genoeglike aand vir almal wat daar teenwoordig was.
Die klub bied sy onvoorwaardelike verskoning aan as iemand oor iets gegrief gevoel het. Peoples wou vir u net die beste voorsit. Na die spyseniers-kontrak toegeken was, was dit uit ons hande, so ook die feit dat daar enkelinge was wat nie reg geklee was nie.
Die gebrek aan respek vir die eregas tydens se toespraak was teleurstellend.
More
News
|