Mylpale op Berg: 40ste marathon vir Van Deventer
2009-07-23
Sieb Sieberhagen
BESONDERE mylpale is vanjaar deur Paarliete bereik tydens die jaarlikse Bergrivier kanomarathon. Een roeier het dit vanjaar vir die 40ste keer aangepak en twee ander roeiers van die Paarl kanoklub het ’n algehele 4de en 5de plek op die kerfstok. Giel van Deventer (59), wat vanjaar die Bergrivier vir die 40ste keer aangepak het, het 80ste gekom. Hy word eersdaags 60 en gaan in September in Portugal as grootmeester (roeiers bo 60) Suid-Afrika verteenwoordig. Pieter-Willem Basson (26) het in die algehele 4de plek klaargemaak, terwyl Heindrich Schloms (28) in die vyfde plek was. Altesaam 25 roeiers van die Paarl-klub het vanjaar die marathon voltooi, insluitend Pieter-Willem se pa, JT Basson, wat sy 32ste marathon voltooi het. Van Deventer vertel dat vanjaar se roeiery baie maklik was. “Alles was in ons guns. Die rivier was lekker vol en die weer het saamgespeel. Sonskyn en geen wind nie. Presies wat ons soek. “In die begin roei ek gewoonlik baie rustig. Ek het die eerste dag 109ste klaargemaak, maar stelselmatig die pap dikker aangemaak,” vertel hy. Hy het in 1972 die Berg in die vierde plek klaargemaak. “Ek het op 12-jarige ouderdom op die Breërivier in die Swellendam-distrik begin roei,” vertel hy. Hy het ook reeds verskeie goeie prestasies op die water behaal. In 1972 het hy en JT Basson (Drakenstein raadslid) die K2-klas op die Breërivier gewen en in 1998 is hy as wêreldkampioen gekroon in die sub-meester klas (K-2). Pieter-Willem Basson (4de algeheel) vertel dat vanjaar se prestasie vir hom die beste nog was vir die Berg. “Vanjaar was ook die eerste keer dat my ondersteuning-span ’n ekstra lid gehad het,” glimlag Basson wat onlangs pa geword het. Jana, sy babadogter van twee maande, het ook vanjaar se marathon meegemaak. Hy het vanjaar se derde skof gewen. “Ons sit maar baie in en spandeer baie tyd op die water. Party weke word daar sommer elke dag geoefen. Maar dit is veral oor naweke wanneer baie kilometers afgelê word,” sê hy. Basson wat in 2000 junior Federasiekleure in die K-2 klas verower het, het ook reeds vanjaar die Peninsula Surfski-marathon op sy kerfstok. Hy het op 14-jarige ouderdom saam met sy pa begin roei en dié twee het in 1998 en in 2008 die Visrivier marathon gewen. Heinrich Schloms, ook nou van die Paarl, het vanjaar in die vyfde plek klaargemaak. Hy en Basson is nou oefenmaats en albei het aspirasies om as die Bergrivier-koning gekroon te word. Dit was vanjaar albei se tiende keer op die Bergrivier. Verlede jaar was Schloms in die vierde plek. “Ons kan nie genoeg dankie sê vir ons ondersteuning-spanne nie. Omdat daar nie baie borgskappe bestaan nie, maak ons maar staat op familie en vriende. * JT Basson, burgemeesterskomitee-lid van Drakenstein munisipaliteit, is vanjaar gekroon as die Peninsula Iron Man, na afloop van die Bergrivier-marathon. Hy het vanjaar aan die Twee Oseane marathon en die Cape Argus fietswedren deelgeneem. * Two local canoeists were among the top five in the Berg River canoe marathon.
More
News
|