Boland Kavaliers se vonk ontbreek
2009-07-23
DIT was ’n powere vertoning deur die Kavaliers Vrydagaand op die Absa-stadion, wat gelei het tot ’n 43-10 nederlaag teen die magtige Haaie van Durban. ’n Goeie drie deur Boland se Deon Scholtz in die 66ste minuut van die wedstryd, was uiteindelik net ’n troosdrie vir die besoekers, maar ’n waarskuwing dat die Boland-vlam net ’n vonkie kort om op sy seerste te brand in die Curriebeker-rugbyreeks. Die Haaie het egter ’n goeie dag op kantoor beleef met sewe drieë. Die Kavaliers sal spoedig moet skaaf aan hul verdediging indien hulle eerskomende Saterdag ’n soortgelyke loesing wil voorkom wanneer hulle Griekwas pak in Kimberley. Dié wedstryd teen Griekwas - die huidige voorlopers in die Curriebeker-rugbyreeks - skop om 17:00 af. Puntemakers vir die Kavaliers was Scholtz (1 drie), Mark Harris (1 doelskop) en Justin Peach (1 strafdoel). * Boland se o.21’s het op hul beurt 3-43 vasgeval teen die Haaie se o.21’s, tydens ’n voorwedstryd op Boland-stadion. Ockert Erasmus het ’n strafdoel vir Boland aangeteken.
More
News
|