Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Pniel Villagers klop voorbokke

Pniel Villagers klop voorbokke
 
2009-07-23


PNIEL VILLAGERS het Saterdag vriend en vyand verras deur die onoorwonne Valsbaai, wat die voorloper in die Superliga B is, welverdiend met 19-18 te klop. Sodoende het Villagers nóg vier waardevolle liga-punte ingesamel.

Dit was vanuit die staanspoor van die wedstryd duidelik dat die Pniel-manne besigheid bedoel het, want die besoekende Valsbaai se skrum was reeds met die heel eerste skrum in tru-rat.

Dit was ook hier waar die grondslag vir dié oorwinning gelê was.

Dan was dit ook ’n wedstryd wat nog lank onthou sal word aangesien beide spanne kompeterend was. Die wedstryd was hard en taai en daar was geen genade nie.

Die manne het gaan water drink met die telling 12-10 in die tuisspan se guns.

Die tuisspan was ongelukkig om nie ’n bonuspunt vir vier drieë te behaal nie, want baie geleenthede is geskep, maar die nodige afronding het ongelukkig ontbreek.

Die Pniel-manne se agterlyn het goed verdedig, met die senter Earl Cyster wat ’n yster was.

Voorlangs het die oopkantflank Fernando Adams sy hart uitgespeel en dit was geen verrassing toe hy as speler van die wedstryd aangewys was nie.

Villagers se twee slotte, Radley Lackay en Clint Palm, het hard gewerk in die vaste-los, terwyl laasgenoemde pragtige balle in die lynstane gewen het.

Aubern Natus (vaskopstut) het sy opponent swaar laat leef en was die ankerman in die tuisspan se skrum.

Dit wil voorkom of Pniel nou op dreef is en die volgende twee tuiswedstryde is van kardinale belang om hulle posisie op die punteleer te verbeter.

Albei spanne moet geluk gewens word dat die wedstryd in ’n goeie gees gespeel was. Dit is ook te danke aan die Paarlse skeidsregter, Johan Lourens, wat altyd in beheer van die wedstryd was.

Puntemakers vir Pniel was Angelo Nelson (1 drie), Radley Lackay (1 drie), Fernando Adams (1 drie) en Riaan Windvogel (2 doelskoppe).




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za