Rose wen derby
2009-07-23
ROSES UNITED het Saterdag sy goeie spel van die afgelope tyd voortgesit deur Wellington Rugbyklub met 16-11 te verslaan op Pelikaanpark. Soos te wagte in derby-kragmetings, is hierdie wedstryd ook gekenmerk deur harde en aanskoulike rugby. Voorlangs het dinge in die eerste helfte baie gelykop verloop met beide agtalle wat rugby van hoogstaande gehalte opgedis het. Ná rustyd het die Rose se agtal egter die oorhand oor hul eweknieë begin kry. Aan die Rose se kant het Franzel September (flank) en Ignatius Korabie (agsteman) geskitter met hul kragspel. Jacobus de Waal (stut) het ook indrukwekkende spel gelewer. Aan die kant van Wellington het Morné Coetzee uitgeblink voorlangs. Agterlangs het die Rose se agterlyn nie die skerpheid van verlede week gehad nie. Talle hanteerfoute het daartoe gelei dat die Rose baie geleenthede vir punte verbeur het. Brendan April (vleuel) en Christopher Adams (heelagter) het gesorg vir baie aksie met hul kenmerkende aanvallende spel. Veral Adams was ’n doring in die Wellingtonners se vlees met sy onverskrokke spel. Die Rose se enigste drie, deur April, het juis gekom nadat Adams ’n teenaanval vanuit sy eie kwartgebied geloods het. Jonathan Schalkwyk (senter) het goed vertoon op die verdediging. Percival Williams was suksesvol met een doelskop en ’n strafdoel, terwyl Stefanus Cedras twee strafskoppe behaal het. Die Rose se tweede en derde spanne het ook hul onderskeie wedstryde gewen. Die Roses pak eerskomende Saterdag hul aartsvyande, Wesbank, op laasgenoemde se tuisveld in Malmesbury. Beide spanne is nog in die wedloop om die Premierliga-titel. Soos die Rose tans speel, moet die manne van Wesbank hulle egter staal vir ’n harde wedstryd teen die Rose se sterk agtal en onvoorspelbare agterlyn. Die busse vertrek om 11:00 vanaf Klaassenstraat, Hillcrest.
More
News
|