Bobaas op bergfiets
2009-07-23
"DIT is die taaiste bergfietskompetisie in die hele kontinent,” sê Petrus Malherbe oor die onlangse kontinentale bergfiets-kampioenskappe waartydens hy sy land met welslae verteenwoordig het. Met sy algehele vyfde plek in die kleure van Suid-Afrika tydens dié kampioenskap, bekend as die All African Continental Champs, is die 26-jarige oudleerling van die Hoër Jongenskool een van die Paarl se jongste Springbokke. Petrus het saam met die res van sy span stof laat spat in die oë van meeste van hul teenstanders tydens die kompetisie wat in Mankele by Nelspruit plaasgevind het, met die uitsondering van die Namibiër, Marc Bassingthwaite, wat met die eerste plek weggestap het. Botswana, Zambië, Kenia en Mauritius was die ander lande wat moes toekyk hoe Petrus en sy spanmaats die kampioenskappe oorheers, met die tweede, derde, vierde en vyfde plekke wat deur Suid-Afrikaners ingepalm is. Petrus moes vasbyt in die Cross Country en in die tegniese 7km baan-item - afdelings wat krag, uithouvermoë, konsentrasie en passie vermag. Petrus kyk egter verby die pyn-faktor. “Daar is niemand wat nié met die titel as kampioen van Afrika wil pronk nie,” sê hy. “Met die Suid-Afrikaanse trui oor jou skouers voel alles anders en dit verlig beslis die pyn, wat maar by enige kompetisie sy kop uitsteek.” Petrus, wat verlede jaar ’n posisie in die top 10 behaal het tydnes die Malmedy 115km Bergfiets-marathon in Duitsland en ook reeds die afgelope drie jaar spog met die WP kampioen-titel, het as vyf-jarige kannetjie sy liefde vir dié sport ontdek toe hy saam met sy nefies op die plaas tussen die trekkers deur gery het. Deesdae is dit egter nie aldag pret nie, met 4 tot 5 ure se strawwe oefening elke dag tydens die afseisoen. “Tydens kompetisie-tyd raak die ure egter korter, maar die oefeninge raak harder,” sê Petrus. Op die ou einde is harde werk net een van die aspekte wat vir Petrus aanvuur om ’n bergpas vir die soveelste keer op een dag uit te trap, ongeag die brand-pyn in sy bene wat vir hom skreeu om te stop. “Sonder my ouers, vriende en die almagtige God, sou niks moontlik gewees het nie.” En wat is Petrus van plan om volgende af te merk op sy lys van doelwitte? “Wel, die SA Marathon vind op 8 Augustus in Harrismith plaas. ’n Posisie in die top drie sal nogal ’n lekker verjaarsdaggeskenk wees.”
More
News
|