Plaaslike kelders vaar goed by Terroir toekennings
2009-07-30
NADAT ’n rekordgetal van 205 inskrywings vir vanjaar se SA Terroir Wyntoekennings ontvang is, het plaaslike kelders ook goeie prestasies gelewer. Diemersfontein (Wellington) het verskeie Terroir-toekennings verower. Hulle Thokozani 2008 het die Nasionale Sertifikaat vir die Top Rooi Versnit opgeraap. In hul streek is die Carpe Diem Viognier 2008 as top Viognier en die Carpe Diem Shiraz 2006 en Pinotage 2007 as top Shiraz en Pinotage onderskeidelik, aangewys. Ander toekennings in die streek is ingepalm deur die Bosman Family Vineyards se Old Bush Vine 2008 as top Chenin Blanc, Glenwood se Chardonnay Vigneron’s Selection 2008 as top Chardonnay (ook Nasionale Sertifikaat), Doolhof se Signatures of Doolhof Sauvignon Blanc 2009 as top Sauvignon Blanc, Doolhof se Signatures of Doolhof Malbec 2007 as top Malbec, en Mount Vernon se Cabernet Sauvignon 2006 as top Cabernet Sauvignon. In die wyke van Franschhoek Vallei en Simonsberg-Paarl het Mount Vernon se Malbec 2007 en Anura se Shiraz Ltd Release 2007 die top rooiwyn Terroir-toekennings ontvang. Glenwood se Chardonnay Vigneron’s Selection 2008 (ook Nasionale Sertifikaat) het die top witwyn-toekenning vir dié streek ontvang. Drie wynkelders het hul merk gemaak deur elk twee nasionale wenners op te lewer. Die nasionale wenners was Bon Courage Landgoed buite Robertson, Springfontein Landgoed naby Stanford en Strandveld Wingerde buite Elim. Die beoordelaars was Charl Theron, Dave Hughes, David Biggs, Elsa Carstens en Clive Torr. Johan Henn, uitvoerende hoof van Novare Actuaries and Consultants (borg) sê: “Die SA Terroir-wyntoekennings gee erkenning aan uitsonderlike wynbereiding.”
More
News
|