Lollos kom weer!
2009-07-30
Johan Nel
’n KLEIN, groenkop-wesentjie uit die buitenste ruim is onlangs in die omgewing van die Paarl en Wellington opgemerk. Kenners is oortuig dat dit Lollos, ’n wese afkomstig van die planeet Lala-land, is. Hoewel alles daarop dui dat Lollos heel onskadelik is, het talle ouers se oë groot gerek toe hulle tydens ’n Lollos-verskyning op Wellington moes aanskou hoe die groen wesentjie hulle stil en besadigde kleuters binne ’n ommesientjie in ’n skreeuende, springende warboel laat verander het. Die een oomblik het die kleuters nog ewe bedees aan hul ouers vasgeklou en die volgende oomblik was hulle en Lollos ’n bondel jillende, dansende, swaaiende lyfies wat so hard saamsing dat die swaar dakbalke van Wellington se Bôrdienghuis gedreig het om te begin lig. “Dis maar hoe Lollos-koors met ’n klomp kleuters werk,” het Hanli Brink van die Lollos-organisasie gerusstellend aan ’n verskrikte groepie ouers gesê toe hul kleuters gillend om die groen gedroggie met die blou bles begin dans het. Volgens Hanli is Lollos in Mei verlede jaar deur die sangeres Alta Joubert en Minki Burger vir die eerste keer op Stellenbosch bekend gestel. Sedertdien het Lollos-koors landwyd versprei. Twee weke gelede was Lollos op Wellington en verlede week was Lollos twee keer by die Ou-Meul-teater in die Paarl te sien en daarna het Lollos die pad gevat tot ver anderkant die biltonggordyn om in die Limpopo-provinsie te gaan optree. Minki en Alta is albei jong ma’s wat Lollos geskep het omdat hulle daarvan oortuig is dat daar in Afrikaans gans te min vrolike, energieke saamdans-liedjies vir kleuters is. Hul Lollos-skepping is nou ook op CD en DVD beskikbaar en die landwye aanvraag na Lollos-vertonings is oorweldigend. Vir meer inligting oor Lollos, kontak gerus vir Hanli Brink by 082-536-5847 of stuur ’n e-pos na info@lollos.co.za.
More
News
|