HENRI KRIEL (29), voormalige leerder aan die Hoër Jongen-skool in die Paarl, het onlangs sy eerste musiek-CD bekend gestel.
Die CD-album, Wat deur my are vloei, is ’n versameling van 13 Afrikaanse rock-liedjies wat wissel tussen liefdesliedjies, rugby, dans, emo-kaanse songs asook dieper geestelike nommers. Dit is by die Klein Libertas-teater op Stellenbosch bekend gestel.
Kriel het die liedjies geskryf en oor die laaste jaar opgeneem.
“Wat deur my are vloei weerspieël die verskeidenheid waarin ek leef. Dit is vir my baie meer as net die titel van ’n CD. Dis wie ek is,” sê hy.
Sy passie vir musiek kom al van kindertyd, en hy het deur die jare reeds verskeie liedjies geskryf en met hom saamgedra.
Sy belangstelling in toneel en musiek het reeds as tjokkertjie op Fraserburg in die Karoo begin. Gedurende sy skooldae aan die Hoër Jongenskool in die Paarl, spits hy hom in sy vrye tyd toe op drama en begin ook sy sangloopbaan onder die toesig van wyle Andrew Strauss. Daarna studeer hy drama by Afda in Johannesburg en behaal sy BA-graad in Lewendige Uitvoerende Kunste.
Sy eerste openbare rol het gekom toe hy sy buiging as Hansie Botha in die TV-program Egoli Plek van Goud gemaak het.
Hy het ook kleiner rolle in 7de Laan vertolk.
In 2002 is Kriel terug Kaap toe waar hy by The Bay Christian Family Church in Somerset-Wes aangesluit en ’n BA-graad in Bediening behaal het deur die Heritage of Faith Bible Institute and Leadership Academy.
Hy is tans bestuurder by Immigration Relocation Services wat hulle toespits op korporatiewe en private immigrasie.
CD’s kan bestel word by Lifestyle 35052 of 087-802-5165 of e-pos adriana@35052.co.za of sms “Henri” na 35052.