DIE rockmusiek-opvoering “Twee Nelle, ’n bottel en ’n Barnard” is Dinsdag 4 Augustus om 20:00 te sien by die Ou Meul-teater. Die trio op die verhoog is bekende sangers Gert Vlok Nel, Bacchus Nel en Brixton Barnard.
Gert Vlok Nel, ’n kunstenaar wat tans in Europa groot erkenning as digter en musikant geniet, het ook al op eie bodem diep in gehore se harte geklim.
‘Beaufort-Wes se beautiful woorde’ word vandag nog beskou as een van die belangrikste albums in Afrikaanse musiek. Dit ter syde gestel, is die beskeie Gert maar net bly om in sy eie woorde deel van ’n ‘rock and roll’ toer te wees.
Die ander Nel in die verhaal is natuurlik Bacchus. ‘Oppieplaas’, sy volkslied vir die outcasts, geniet kultusstatus by verskeie musiekfeeste.
Daar is egter meer in die man se arsenaal as saamsing liedjies en gehore by onlangse vertonings sal getuig dat sy debuutalbum, ‘In die arms van die nag’ net ’n sterk fondasie is vir groter werke wat volg.
Brixton Barnard was tot onlangs betrokke by Trike en die Brixton Moord en Roof orkes. Van sy beste werk kan onder andere op albums soos ‘volle militêre eerbetoon’ en ‘terug in skubbe’ gehoor word. Hy werk tans aan ’n solo album en is ook betrokke by die punkgroep Plank.
Gehore kan uitsien na nuwe vertolkings van ou gunstelinge en ook interpretasies van ander kunstenaars se werke.
Kaartjies is R60 en besprekings kan gedoen word by Vicky Stemmet by 083-564-0056 of by vstemmet@gmail.com.