Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


King Finance sluit dalk sy deure

King Finance sluit dalk sy deure
 
2009-07-30

Anne Kruger

SOWAT 10 000 beleggers sit in sak en as nadat ’n voorlopige aansoek om likwidasie van die Wellingtonse beleggingsmaatskappy King Financial Holdings op 21 Julie in die Kaapse Hooggeregshof toegestaan is.

Die maatskappy skuld hulle sowat R640 miljoen, waarop hulle ’n opbrengs van tot 30% per jaar beloof is.

Sommige mense het selfs verbande op hul huise geneem en die geld aan Kingfin gegee, omdat die opbrengskoers so hoog was.

Sulke mense loop nou gevaar om nie net al hul spaargeld nie, maar ook hul huise te verloor.

Die aansoek is gebring deur ses beleggers en is gesteun deur die Raad op Finansiële Dienste, wat hul verslag ook na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys het.

Volgens hofstukke het die RFD die onderneming in Desember begin ondersoek nadat Kingfin se makelaars-afdeling, A&S King Makelaars, nie die voorgeskrewe ouditverslae en state by die RFD ingedien het nie.

Tydens ’n inspeksie is bevind dat hulle hul lisensievoorwaardes oorskry het met die produkte wat hulle bemark.

Kingfin is sedert Februarie verlede jaar swaar getref deur die insinking in die eiendomsmark asook die onvermoë van huurders om die huur te betaal in hul winkelsentrums, en het kontantvloeiprobleme ondervind.

Daar is gevolglik aandele uitgereik om nuwe finansiering te bekom.

Volgens die RFD se verslag is beleggers mislei tydens die uitbreiding van die aandeelhouding, wat sonder ’n prospektus aangepak is.

Dit wil voorkom asof R71 miljoen se “aandele” verkoop is en dat hierdie fondse nie benut is om nuwe eiendom te ontwikkel nie, maar teruggeploeg is in die onderneming om onder meer aan bestaande beleggers hul rente te betaal. Meer as R21 miljoen van hierdie geld is ook uitbetaal aan bekommerde beleggers wat hul geld teruggeëis het.

In Februarie vanjaar het beleggers erg onrustig geword toe die rente vir die eerste keer laat betaal is. Kingfin het beleggersvergaderings gereël om gemoedere te sus.

In die kennisgewing van die jongste vergadering wat vroeër vandeesmaand gehou sou word, was geen verwysing na die feit dat die RFD vir Kingfin ondersoek nie.

In reaksie hierop het die RFD sy hofaansoek vervroeg sodat die likwidasiebevel uitgereik kon word voordat die vergaderings gehou kon word.

Die RFD het bevind dat Kingfin se aandelehandel onwettig was omdat geen prospektus uitgereik is nie (hoewel nuwe aandeelhouers genader is), en dat meer aandele verkoop is as wat te kenne gegee is (aandeelhouers se aandele is dus verwater) om hul finansiële probleme te oorkom.

Boonop is aandele verkoop sedert Julie verlede jaar, voordat die maatskappy omskep is in ’n publieke maatskappy.

Kingfin het ook die RFD se instruksie om dadelik aandeelverkope te staak, geïgnoreer.

Verskeie klousules van die maatskappywet is oortree en die groep kan nie sy skuldeisers betaal nie.

Indien die bates van sowat R350 miljoen verkoop sou word, sal die skuld steeds R650 miljoen beloop (insluitend R200 miljoen skuld aan bouers en banke), gevolglik sal kuratorskap geen doel dien nie, meen die RFD.

Die bates sluit 51 eiendomme in waarvan 22 nie ontwikkel is nie.

Die ontwikkelings sluit in King’s Court in Walmer (Port Elizabeth) en King’s Mall in Gonubie (Oos-Londen).

Die rekening waarin beleggersgeld gehou is, is onlangs deur Nedbank gevries om beleggers se belange te beskerm.

Die sowat 10 000 beleggers is nie net hul rente-inkomste kwyt nie, maar sal moontlik ook ’n groot deel van hul kapitaal verloor.

Die afgelope paar jaar het van die Kingfin makelaars bedank, glo omdat hulle nie saamgestem het met die riskante werkswyse van die maatskappy nie.

Die onderneming word besit deur die broers Adrian, Paul en Stephen King.

Die besturende direkteur wat vroeg vanjaar aangestel is om die besigheid “reg te ruk”, Anthony Barnard, het ná twee maande tou opgegooi.

Die RFD het A&S King Makelaars en Kingvest 23 se lisensies om handel te dryf voorlopig opgeskort en aanbeveel dat die groep nou verder ondersoek word, omdat beleggersfondse misbruik en beleggers mislei is.

* Donderdag is 'n aansoek om die voorlopige sekwestrasie van Adrian King, voorsitter van Kingfin, in die Kaapse Hooggeregshof toegestaan.

Die aansoek is gebring deur 'n belegger wat 'n verband op sy huis geneem het om sodoende fondse te verkry om in Kingfin te belê.
Hy het vanjaar in Mei 'n ruilooreenkoms met King geteken in 'n poging om sy geld terug te kry, maar was onsuksesvol.

Hy het in die hof aangevoer dat Adrian King sy belangrikste bron van inkomste verloor het nadat die likwidasie-aansoek verlede week toegestaan is.

King het glo 'n salaris van R160 000 per maand verdien.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za