Liefdesprokie eindig tragies
2009-07-30
Lise Beyers
’n LIEFDESPROKIE het verlede week ’n tragiese einde gehad, toe ’n jong vrou voor die oë van haar verloofde gesterf het. Leana van Antwerpen (23) en Jaco van Rhyn (21) van Pontacstraat, Paarl, was verlede Vrydag onderweg na Uitenhage om Jaco se ouers, sy suster en haar baba huis toe te neem. Die noodlot het buitekant Swellendam getref, toe die treiler van Jaco se bakkie die pad byster geraak het en veroorsaak het dat die voertuig gerol het. Leana is op slag dood en Jaco se ma en suster is met ernstige beserings na Paarl Hospitaal vervoer. Jaco het ’n kopwond opgedoen, asook ’n nekbesering. Nou sit ’n gebroke Jaco alleen in die woonstel wat hy en Leana in die Paarl gedeel het. Die twee het mekaar reeds op skool in Uitenhage ontmoet, en dit was liefde by die eerste oogopslag. Van toe af is hulle onafskeidbaar en kort nadat hulle skool verlaat het, het die twee verloof geraak. Maar hulle het hulself eers in die Paarl gevestig om hul loopbane aan die gang te sit, voordat troureëlings getref sou word. Leana het as ontwerper gewerk vir ’n eiendomstydskrif, en Jaco is verkoopsman by ’n plaaslike onderneming. “Maar,” vertel Jaco, “ek was van plan om binnekort in Augustus vir haar te verras en vir haar eenvoudig net eendag na die Departement van Binnelandse Sake te neem om vir haar my vrou te maak. “Ek kon net nie meer wag nie, want sy was die vrou met wie ek die res van my lewe wou deurbring.” Nou is Jaco se drome aan skerwe en al wat in sy vooruitsig lê, is sy geliefde se begrafnis wat Saterdag in Port Elizabeth plaasvind. * A young woman died tragically in a crash in a car driven by her fiancée.
More
News
|