Pniel Villagers draf Collegians kaf
2009-07-30
PNIEL VILLAGERS het Saterdag sy derde agtereenvolgende oorwinning behaal deur die gedugte span van Collegians met 24-20 te klop. Met dié oorwinning het Villagers vanuit die laaste plek op die punteleer opgeskuif. Die Pnielers het die momentum van hul vorige wedstryd behou en reeds in die tweede minuut ’n doel aangeteken. Die besoekers het ’n gelykmakende doel in die een-en-twintigste minuut behaal, waarna twee vinnige drieë deur die tuisspan die rustydtelling op 17-10 te staan gebring het. Die jeugdige Mustafa Jappie, die besoekers se heelagter, het die tuisspan hoofbrekens besorg elke keer wanneer hy uit die laaste vesting ’n aanval geloods het. Sodoende is hy welverdiend met ’n puik drie beloon. Vir die wenspan het Wayne Mansfield ’n barshou gespeel, terwyl sy ingooie by die lynstane op die spreekwoordelike tikkie was. Hy het klokslag sy springers gevind en so is goeie besit verseker waarmee die agterspelers kon aanval. Fernando Adams, kranige oopkantflank van Pniel, was weereens kookwater en is goed bygestaan deur Clyde Rose (steelkantflank). Laasgenoemde was ’n uitblinker op die aanval, sowel as verdediging en is as die speler van die wedstryd aangewys. Die Pniel-manne het hulle byna self in die voet geskiet toe twee spelers se swak dissipline byna gelyktydig tot geelkaarte gely het. Gelukkig het die res van die span soos tiere verdedig en kop gehou. Die kaptein, Radley Lackay, het in dié stadium sy troepe mooi gelei. Lackay het selfs die bonuspunt-drie tydens dié periode behaal. Puntemakers vir Pniel was Clyde Rose (2 drieë), Fernando Adams (1 drie), Radley Lackay (1 drie) en Dimitri Noble (2 doelskoppe). Die tuisspan se tweede en o.20-spanne het ook geseëvier terwyl die derde span verloor het.
More
News
|