Paarl Rugbyklub trap Brakkies
2009-07-30
PAARL RUGBYKLUB het Saterdag daarin geslaag om vir Brackenfell op Faurestraat-stadion met 41-31 te klop. Paarl het veral in die eerste helfte baie goed gespeel en ’n goeie voorsprong opgebou, maar in die tweede helfte is drie maklike drieë afgestaan wat Brackenfell toegelaat het om sterk terug te kom. Paarl het weereens puik geskrum en was in alle vaste fasette in beheer van sake. Daar ontstaan egter ’n probleem op die verdediging sodra opponerende spanne die spel begin los maak en teen ’n vinnige tempo teenaanvalle te loots. Die losskakel Clive Samuel was goed op dreef en het 18 punte aangeteken, wat twee drieë ingesluit het danksy goeie ondersteunende spel. Samuels is laat in die wedstryd beseer. Sy plaasvervanger, Jacques Hendricks, het egter ook ’n strafdoel bygedra. Eugene Kinghorn (senter) het ’n pragdrie onder die pale gaan druk en Lionel Hugo (agsteman) het die bal toegeval toe die voorspelers Brackenfell oor die doellyn geskrum het. Nóg ’n stukkie briljante spel deur Alewyn Hugo (linkervleuel), nadat hy ’n teenaanval vanuit sy eie halfgebied geloods het, het aan Jaco Immelman (heelagter) ’n mooi drie besorg. Hugo het later self ook die doellyn oorgesteek. Paarl se kaptein, André-Louis de Villiers, was skitterend op stryk voordat hy ook die veld met ’n besering moes verlaat. Vorster Stone (loskopstut) was self op sy stukke en het orals opgeduik om die bal vorentoe te dra. Paarl se tweede span het met 5-6 verloor en die derde span het 31-5 gewen. Ludolf Pretorius (vleuel, 2 drieë) het tydens laasgenoemde wedstryd uitstekend vertoon met ’n hele paar mooi lopies. Paarl het dié naweek ’n loslootjie. * Paarl se onder 20’s het verlede Woensdag vir Goodwood op Faurestraat met 25-3 geklop en sodoende hul onoorwonne status in die Onder 20 B-kompetisie behou.
More
News
|