Roses United verloor naelskraap teen Wesbank
2009-07-30
ROSES UNITED het verlede Saterdag op Malmesbury naelskraap met 14-15 teen Wesbank verloor in ’n Boland Premierliga-wedstryd. Wesbank het rustyd met 15-9 voorgeloop. Beide spanne het van die afskop af met mening aangeval. Die twee pakke voorspelers het mekaar goed opgekeil met klipharde spel. Vir die Rose het Martin Nel (haker) en John Johnson (stut) goed gespeel voorlangs. Ignatius Korabie het ook ’n barshou gespeel. Ongedwonge foute het egter daartoe gelei dat die Rose drie drieë in die eerste helfte afgestaan het. Doellose skoppe en swak hanteerwerk het gelei tot die Wesbankers se drieë. Percival Williams se drie suksesvolle strafskoppogings het egter gesorg dat die Rose teen rustyd met die telling op 9-15 nog sterk in die prentjie was. Die Rose kan ietwat ongelukkig voel dat die Wesbankers nie swaarder gestraf is vir die talle gevalle van ontoelaatbare spel nie, en dit terwyl die Wellingtonners sterk op die aanval was. Ná rustyd het die Rose, onder leiding van hul inspirerende kaptein Franzel September, met mening teruggekom. Die Rose se agterlyn het ook met meer doelgerigtheid gespeel en veral Jonathan Schalkwyk het die Wesbankers laat bontstaan met sy breekslae. Justin Morgan het ook veral in die eerste helfte talle goeie lopies ingekry. Die Rose se verwoede aanvalle het daartoe gelei dat Brendon April, met speeltyd byna verstreke, oorgeduik het vir ’n welverdiende drie vir die besoekers. Ongelukkig was Williams se doelskoppoging onsuksesvol en het die Rose die wedstryd met 14-15 verloor. Die Rose het eerskomende naweek ’n loslootjie. Hul volgende wedstryd is op 8 Augustus teen Delicious (tuis). Ondersteuners en ander belangstellendes word daaraan herinner dat die klub môre-aand (Vrydag 31 Julie ) ’n langarmdans in die Wellington stadsaal aanbied. Musiek sal verskaf word deur die gewilde Nerina Brass van Worcester. Kaartjies is beskikbaar by Anthony Joseph (082-713-8367) of Geraldine Williams (084-223-4649/078-164-3847).
More
News
|